Oranje Vrijstaatsche Gouvernementsspoorwegen
spoorwegoperateur in die Oranje-Vrystaat / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Oranje Vrijstaatsche Gouvernementsspoorwegen (OVGS) is op 1 Januarie 1897 gestig toe die Oranje-Vrijstaat Goewernment die spoorlyne binne hul gebied vanaf die Kaapkolonieregering gekoop het. Die spoorlyn is oorspronklik deur die Kaapse Regeringspoorweë (Cape Government Railways of CGR) gebou en bedryf om die Kaapse hawens met die Witwatersrandse goudvelde te verbind. Al het die Vrystaat 'n militêre ooreenkoms met die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gesluit, was daar nogtans 'n tariefstryd tussen die Nederlands-Suid-Afrikaanse Spoorwegmaatskappy (NZASM) aan die een kant en die OVGS en die CGR aan die ander kant en later ook teen die Natalse Regeringspoorweë (Natal Government Railways of NGR).
Tussen 1897 en die begin van die Tweede Vryheidsoorlog (12 Oktober 1899) was daar 'n gereelde diens oor die OVGS se spoorweë. Nadat lord Roberts die Vrystaat in Maart 1900 ingeval het, kom die spoorlyn onder die beheer van die Imperiale Militêre Spoorweë en na die Verdrag van Vereeniging het die OVGS met die NZASM saamgesmelt om die Sentraal-Suid-Afrikaanse Spoorweë (Central South African Railways of CSAR) te vorm.