Ramtjaritmanas
From Wikipedia, the free encyclopedia
Sjrīe Rāmtjaritmānas (Dewanāgarī: श्रीरामचरितमानस) is 'n epiese gedig in Awadhi, wat in die 16de eeu opgestel is deur die Indiese digter, Goswami Toelsidas (c.1532–1623).
Rāmtjaritmānas beteken letterlik die "Meer van die Dade van Rām".[1] Toelsidas het die sewe kānds (letterlik 'boeke', kognaat van kantos) van die epos met sewe trappe verbind, wat lei tot die heilige waters van 'n Himalaïese meer (of mānas, soos die Mansarowarmeer of Manasbalmeer) "wat meteens die liggaam en die siel suiwer."[2][3] Die kern van die werk is 'n poëtiese oorvertelling van die gebeure van die Sanskrit-epos Ramajana, gesentreer om die redevoering van Rām, die kroonprins van Ajodhja. Die groot gedig is ook genoem Toelsi-krit Ramajan (letterlik 'Toelsi-gekompileerde Ramajan', of in algemene terme, 'Die Ramajan van Toelsidas').[4]
Toelsidas (soms genoem Toelsidas-ji of net Toelsi) het begin met die opstel van die geskrif in Wikram Samwat 1631 (1574 n.C.) in Awadhpoeri, Ajodhja.[5] Die presiese dag word in die gedig aangegee as die negende dag van die maand Tjaitra, wat die geboortedag van heer Ram was.[5] 'n Groot deel van die gedig is te Waranasi opgestel, waar die digter sy latere lewe oorwegend deurgebring het.
Vandag word dit as een van die grootste werke in die Hindoeliteratuur beskou. Die samestelling daarvan merk die tydstip wat die Ramajana-verhaal vir die eerste keer aan die gewone man beskikbaar gestel is vir sang en opvoering. Daarom word die teks verbind met die begin van die Ramlila-verhaaltradisie, die dramatiese opvoering van die teks.