Twaalf heilige heuwels van Imerina
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die twaalf heilige heuwels van Imerina is heuwels van historiese belang vir die Merina-volk van Madagaskar. Hulle is versprei dwarsoor Imerina, die sentrale deel van die plato van Madagaskar. Die heuwels was dikwels antieke hoofstede, die geboorteplek van belangrike openbare figure of die plek waar geëerde politieke en spirituele leiers begrawe is. Die eerste stel heilige heuwels is in die vroeë 17de eeu deur koning Andrianjaka aangewys. Die heiligheid van die heuwels is herbevestig deur koning Andrianampoinimerina van die laat 18de eeu wat ’n paar van die ou terreine met nuwes vervang het. Deur die geskiedenis is meer as 12 heilige heuwels dus aangewys, maar die idee van 12 heilige heuwels het voortbestaan vanweë die belangrikheid van die getal 12 in Malgassiese kosmologie.
Vandag is daar min konkrete bewyse dat die historiese belangrikheid van die heuwels steeds van toepassing is, maar die belangrike argeologiese en kulturele erfenis van die terreine geld steeds. Die historiese belangrikheid van die terreine word die beste verteenwoordig deur die Rova van Antananarivo by Analamanga, die antieke gefortifiseerde stad by Alasora, die huise en grafte van die andriana (adellikes) by Antsahadinta en die antieke versterkings en paleise by Ambohimanga. Laasgenoemde is sedert 2001 ’n Unesco-wêrelderfenisterrein.