2013 Superrugbyseisoen
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 2013 Superrugbyseisoen het in Februarie 2013 afgeskop met voorseisoenwedstryde wat van middel Januarie gespeel is. Dit was die derde seisoen van die vergrote 15-span-toernooi en die 18de van die rugbykompetisie tussen provinsiale spanne van die suidelike halfrond. Daar is elke naweek van 15 Februarie tot 13 Julie gespeel (met ’n drie-week breuk tussen rondtes 17 en 18 vir internasionale wedstryde) en die eindwedstryd is op 3 Augustus 2013 beslis.
2013 Superrugby | |
Amptelike logo | |
Deelnemende lande | Australië Suid-Afrika Nieu-Seeland |
---|---|
Kampioen | Chiefs (2de titel) |
Wedstryde gespeel | 125 |
Drieë gedruk | 626 (gem. 5.008 per wedstryd) |
Meeste punte aangeteken | 248 Morné Steyn (Bulls) |
Meeste drieë gedruk | 10 Frank Halai (Blues) |
Die kompetisie was oor 23 weke beslis met ’n totaal van 125 wedstryde wat gespeel is. Dit het begin met drie groepe van vyf spanne wat volgens lande ingedeel was (daar was dus ’n Australiese, Nieu-Seelandse en Suid-Afrikaanse groep). Met die nuwe formaat het die seisoenwedstryde uit twee tipes wedstryde bestaan, nl.:
- Intergroepwedstryde – Elke span het tweekeer teen elk van die ander spanne in die groep gespeel, in tuis- en wegwedstryde. (Sien onderstaande tabelle vir groepe)
- Tussengroepwedstryde – Elke span het teen vier van die spanne van die ander twee groepe gespeel, waarvan vier wedstryde tuis was en vier wedstryde weg. Daar was dus teen een span van elke ander groep nié gespeel nie.
Die boonste span in elke groep, asook die volgende drie spanne op die algehele punteleer ongeag hul plek in die groep, het in die uitspeelwedstryde gespeel.[1] Die boonste twee groepwenners (op die basis van die algehele punteleer) het die eerste ronde van die uitspeelwedstryde ’n loslootjie ontvang. In die eerste ronde van die uitspeelwedstryde was die derde groepwenner nommer drie met ’n tuiswedstryd teen die span wat sesde op die algehele punteleër geëindig het. Die span wat vierde was op die algehele punteleër het in ’n tuiswedstryd teen die span wat vyfde was, uitgespeel. In die halfeindrondes het die tweede groepwenner uitgespeel teen die span wat die eerste uitspeelronde gewen het en die hoogste op die punteleër was. Die eerste groepwenner het dan teen die ander uitspeelrondewenner gespeel. Die eindronde was ’n tuiswedstryd vir die span wat die hoogste op die algehele punteleër geëindig het.[2]
Op 16 Augustus 2012 is bekendgemaak dat die Southern Kings aan die seisoen gaan deelneem. Die span is ingesluit ten koste van die Lions weens hulle teleurstellende seisoen in 2012. Die Lions het egter die geleentheid na afloop van die 2013-seisoen aangegryp tydens twee promosie/relegasiewedstryde en die Kings toe met 'n beter puntetotaal geklop. Hulle word nou die vyfde span in die Suid-Afrikaanse konferensie vir die 2014 Superrugbyseisoen.