486958 Arrokoth
From Wikipedia, the free encyclopedia
486958 Arrokoth, wat die voorlopige naam (486958) 2014 MU69 gehad het, is ’n trans-Neptunus-voorwerp in die Kuipergordel in die buitenste deel van die Sonnestelsel. Dit is op 26 Junie 2014 deur sterrekundiges met behulp van die Hubble-ruimteteleskoop ontdek[3] en op 1 Januarie 2019 deur die tuig New Horizons besoek. Arrokoth is 31 km lank, en die verskillende lobbe, met die byname "Ultima" en "Thule", is onderskeidelik 19 en 14 km breed. Dit is ’n kontakdubbelvoorwerp waarvan die twee dele met hul hoofasse langs aan mekaar verbind is en bestaan uit 'n groter deel (Ultima) wat drie keer so groot soos die kleiner deel (Thule) is. Dit lyk of Ultima 'n samestelling van agt kleiner voorwerpe,[11] elk sowat 5 km breed, is wat saamgesmelt het voordat Ultima en Thule met mekaar in aanraking gekom het.[12][13]
’n Saamgestelde kleurfoto van Arrokoth.[1] | |
Ontdekking [2][3] | |
---|---|
Ontdek deur | Marc Buie / Hubble-ruimteteleskoop |
Datum | 26 Junie 2014 |
Kleinplaneet-benaming | (486958) 2014 MU69 |
Alternatiewe name | Ultima Thule (nieamptelik)[4] 2014 MU69 PT1 [5] 1110113Y [6] 11 [7] |
Kleinplaneet-kategorie | TNV,[2] cubewano[6][8] |
Wentelbaaneienskappe[2] | |
Epog 27 April 2019 | |
Afelium | 46,442 AE |
Perihelium | 42,721 AE |
Halwe lengteas | 44,539 AE |
Wentelperiode | 298 jaar |
Gem. anomalie | 306,31° |
Gem. beweging | 0° 0m 11.88s / dag |
Baanhelling | 2,45116° |
Lengteligging van stygende nodus | 42,7212447° |
Periheliumhoek | 174,418° |
Fisiese eienskappe |
|
Afmetings | 35 × 20 × 10 km |
Skynmagnitude | 26,8[9] |
Absolute magnitude | 11,1[2] [10] |
Dit het ’n wentelperiode van 298 jaar en ’n klein baanhelling en eksentrisiteit – daarom word dit as ’n klassieke Kuipergordelvoorwerp geklassifiseer. Dit het vermoedelik nie groot versteurings ondergaan nie en is dus een van die primitiefste voorwerpe bekend.
In Augustus 2015 is Arrokoth gekies as die volgende teiken van die ruimtetuig New Horizons ná sy verbyvlug van die dwergplaneet Pluto. Op 13 Maart 2018 het Nasa aangekondig die voorwerp sal die bynaam Ultima Thule hê. Dié besluit is geneem ná ’n openbare stemveldtog.
Arrokoth is die verste voorwerp in die Sonnestelsel wat nog deur ’n ruimtetuig besoek is.[5][14]