Bao
From Wikipedia, the free encyclopedia
Bao is ’n tradisionele mankala-bordspeletjie wat in die meeste lande in Oos-Afrika gespeel word, onder meer Kenia, Tanzanië, Comoro, Malawi en Burundi.[1][2] Dit is die gewildste onder die Swahili-volke van Tanzanië en Kenia; die naam "Bao" kom uit Swahili en beteken "bord" of "bordspel". In Tanzanië word ’n "Bao-meester" hooggeag. In Malawi bestaan nog ’n weergawe van die spel, Bawo, wat die Yao-woord is.
Bao is ’n gewilde weergawe van mankala omdat dit ’n ingewikkelde en strategies gevorderde spel is.[3] In Zanzibar en Tanzanië bestaan twee weergawes: ’n moeiliker een vir gevorderde spelers (Bao la kiswahili, "Bao van die Swahili-volk") en ’n makliker een (Bao la kujifunza, "Bao vir beginners"). Verskeie ander mankalas bestaan in Oos-Afrika en dele van die Midde-Ooste wat soortgelyk aan Bao is, soos Hawalis in Oman en Omweso in Oeganda.
Amptelike toernooie word in Tanzanië, Zanzibar, Kenia en Malawi gehou en sommige lande het Bao-verenigings.