From Wikipedia, the free encyclopedia
Bukkake of boekkake (Japannees: ぶっかけ) is ’n seksdaad wat dikwels in pornografie uitgebeeld word waar verskeie mans op ’n vrou of ander man ejakuleer.[1][2][3][4][5][6] Bukkake-video's het ’n relatief algemene plek in hedendaagse pornografie ingeneem. Dit het in die 1980's in Japan ontstaan en daarna na Amerika en Europa versprei, waarna dit ook in gay pornografie verskyn het.
Bukkake is die selfstandige naamwoord van die Japannese werkwoord bukkakeru (ぶっ掛ける, "om water te sprinkel").
Bukkake het in die middel tot laat 1980's in pornografie in Japan verskyn.[5] Volgens een kommentator is ’n belangrike rede vir die ontstaan daarvan dat geslagsorgane in Japan gesensor moet word deur ’n soort "mosaïek"-beeldelement.[7] Een gevolg daarvan is dat daar in Japannese pornografie meer op die vrou se gesig en liggaam gefokus word as op haar geslagsdele.[7] Omdat penetrasie nie gewys mag word nie, het hulle ander maniere uitgedink om die seksdaad te wys sonder om Japan se wette te oortree. Aangesien semen nie gesensor hoef te word nie, het dit ’n skuiwergat vir meer eksplisiete tonele verskaf.[7] Die bevordering daarvan en skepping van die term word veral toegeskryf aan die regisseur Kazuhiko Matsumoto, in 1998.[7] Die Japannese video-ateljee Shuttle Japan het die term in Januarie 2001 as ’n handelsmerk geregistreer.[8]
Die praktyk het toe in die laat 1990's na Amerika en Europa versprei.[9][10] Dit was deel van ’n neiging tot "harder" pornografie, en is voorafgegaan deur die mode om dubbele penetrasie te wys. Saam daarmee het orgietonele ook gewild geraak.[11]
Daar was ook ’n finansiële voordeel vir Westerse pornografiemakers om bukkake-prente te maak omdat net een aktrise nodig is saam met ’n paar amateur-akteurs, wat minder betaal hoef te word.[10] Tog verskil Westerse bukkake-tonele van dié in Japannese prente; in laasgenoemde is aktrises gewoonlik soos kantoor- of skoolmeisies aangetrek en word hulle in ’n onderdanige posisie uitgebeeld, terwyl vroue in eersgenoemde prente uitgebeeld word asof hulle dit geniet.[12][13] Nog ’n Japannese weergawe van bukkake is gokkun, waarin verskeie mans in ’n houer ejakuleer en die vrou dit dan drink.[3][14] Bukkake is minder gewild as ander neigings in Westerse pornografie, waarskynlik omdat die eksplisiete onderdanigheid van die vrou by baie mense nie byval vind nie en omdat ejakulasie gewoonlik beskou word as die klimaks van die toneel eerder as die hoofgebeurtenis.[10]
Die genre het ook na gay pornografie versprei, waar verskeie mans op een man ejakuleer.[5][6] Lesbiese bukkake-video's word ook vervaardig.[15][16]
Die Amerikaanse redakteur en uitgewer Russ Kick haal ’n seksuoloog aan en sê mans hou daarvan dat daar ’n soort afsluiting van die sekstoneel is, en om na ander mans te kyk wat ejakuleer, verskaf dié afsluiting.[6] Die kyker identifiseer met die mans wat ejakuleer en ervaar ’n soort plaasvervanger-plesier.[6] Volgens Gail Dines, wat veldtogte teen pornografie voer, merk die ejakulasie die vroue ook as "gebruikte goedere" en dit gee die man ’n sin van eienaarskap.
Verskeie skrywers het bukkake al as soortgelyk aan vernedering beskryf. Die forensiese sielkundige Karen Franklin het bukkake beskryf as simboliese groepsverkragting, en die hoofdoel daarvan is die vernedering, degradering en objektifikasie van die vrou.[17] Tristan Taormino, ’n feministiese skrywer en seksopvoeder, het bukkake vergelyk met ’n "gay sirkelmasturbasie" en gewys op die teenstrydigheid daarvan om dit ’n heteroseksuele gebruik te noem terwyl dit in werklikheid ’n groep naakte mans is wat naby mekaar staan en saam masturbeer.[18]
Phillip Vannini, ’n medeprofessor in kommunikasie en kultuur aan die Royal Roads-universiteit, het die selfaangestelde netsekskommentator George Kranz aangehaal wat die onlangse Amerikaanse vertolking van bukkake beskou as ’n "belangrike vordering in menslike gedrag" en klem lê op die lewendige partytjie-atmosfeer wat in Amerikaanse bukkake-video's heers teenoor die gedempte Japannese styl.[13]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.