Café Riche, Pretoria
From Wikipedia, the free encyclopedia
Café Riche is op die hoek van Parlement- en WF Nkomostraat, langs Kerkplein in Pretoria geleë. Die gebou is in 1904 deur die Nederlandse argitek Frans Soff ontwerp en in 1905 gebou. Soff het ook die Vrouemonument in Bloemfontein saam met Anton van Wouw ontwerp.
Die gebou het oorspronklik bekend gestaan as die Investmentgebou, maar as gevolg van Café Riche se gewildheid het die gebou se vorige naam vergete geraak. Café Riche is een van die oudste restaurante in Pretoria.
Die gebou is ontwerp in die Art Nouveau-styl wat tussen 1894 en 1914 in Europa gewild was. Die klip-uil op die betonvoetstuk, asook die kunswerk van 'Mercurius', is albei deur Anton van Wouw ontwerp.
Die vensterrame en deure het van die Toringkerk, die tweede en laaste kerk in Kerkplein wat 'n toring gehad het, gekom.
Café Riche is as 'n Provinsiale Erfenisterrein verklaar en word ingevolge Artikel 34 van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet 25 van 1999) beskerm, aangesien dit ouer as 60 jaar is.[1]