Ganesha
From Wikipedia, the free encyclopedia
Ganesha of Ganesja (Sanskrit: गणेश; luister (hulp·inligting)), wat ook as Ganapati en Winajaka bekend staan, is een van die bekendste en mees geliefde Hindoegode.[3] Sy gelykenis word oral in Indië aangetref[4] en alle Hindoe-affiliasies aanbid hom.[5] Sy aanbidding is nie tot Hindoes en Indië beperk nie, maar kom wydverspreid voor, ook onder Djainas en Boeddhiste.[6]
Ganesha (Gaṇeśa) | |
---|---|
Basohli-miniatuur, circa 1730. Nasionale Museum, Nieu-Delhi.[2] | |
Devanagari | गणेश |
Affiliasie | Deva |
Mantra | ॐ गणेशाय नमः (Oṃ Gaṇeśāya Namaḥ) |
Wapen | Byl |
Metgesel | Buddhi (wysheid), Riddhi (welvaart), Siddhi (vervulling) |
Rydier | muis |
Ganesha word maklik uitgeken as die god met 'n olifantkop.[7] Hy word oor die algemeen aanbid vir die wegneem van hindernisse[8] en as die heer van beginpunte en van hindernisse (Wignesja, Wignesjwara),[9] asook beskermheilige van die kunste en wetenskappe en die deva (god) van intellek en wysheid.[10] Hy word vereer aan die begin van rituele en seremonies en word opgeroep as die beskermer van letterkunde tydens skryfsessies.[11] Verskeie geskrifte bevat mitologiese anekdotes wat met sy geboorte en dade verbind word en verduidelik sy eiesoortige ikonografie.
Ganesha het in die 4de en 5de eeu tydens die Ghoepta-ryk as 'n afsonderlike godheid in ’n duidelik herkenbare vorm ontwikkel, en het eienskappe van Vediese en voor-Vediese voorgangers geërf.[12] Hy het vinnig gewild geword en is in die 9de eeu plegtig ingesluit by die vyf hoofgode van Smartisme ('n Hindoe-denominasie). Aanhangers van die Ganapatja-sekte, wat Ganesha as die allerhoogste godheid geïdentifiseer het, het in dié tydperk ontstaan.[13] Die hoofgeskrifte toegewy aan Ganesha is die Ganeshapurana, Moedgalapurana en Ganapati-atharvashirsa.