Krieketwêreldbeker 1987
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 1987 (Engels: 1987 Cricket World Cup; Hindi: 1987 क्रिकेट विश्व कप; Oerdoe: کرکٹ عالمی کپ 1987ء) is van 8 Oktober tot 8 November 1987 in Indië en Pakistan beslis. Dit was die vierde krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) aangebied word en die eerste buite Engeland. Die Krieketwêreldbeker 1987 is deur die Indiese houermaatskappy Reliance Industries geborg en staan dus amptelik bekend as die Reliancebeker 1987.
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 1987 | |
Datums | 8 Oktober – 8 November |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketkonferensie (IKK) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Indië Pakistan |
Kampioen | Australië (1ste titel) |
Naaswenner | Engeland |
Deelnemers | 8 (24 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 27 |
Meeste lopies | Graham Gooch (471)[1] |
Meeste paaltjies | Craig McDermott (18)[2] |
← 1983 1992 → |
Die toernooi se formaat van 1983 het onveranderd gebly, behalwe vir die afname in die aantal boulbeurte van 60 tot 50, die huidige standaard vir alle EDI-wedstryde wat buite Engeland gespeel word, en agt nasionale krieketspanne het aan die toernooi deelgeneem: Die destydse sewe toetskrieketlande (Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en Wes-Indië), saam met die IKK-trofee 1986-wenner Zimbabwe. Tydens die Krieketwêreldbeker 1987 is 27 wedstryde gespeel, waaronder 24 tydens die groepfase en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span twee keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan en is – vir ’n laaste keer in die toernooi se geskiedenis – in tradisionele wit klere en met rooi balle gespeel; almal is bedags gespeel en het dus vroeg in die oggend begin.[3]
Australië, Engeland, Indië en Pakistan het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Australië het Pakistan en Engeland het Indië geklop, voordat Australië die eindstryd op Eden Gardens in Kalkutta teen sy aartsvyand Engeland met sewe lopies gewen en sodoende sy eerste titel ingepalm het. Die tweemalige kampioen Wes-Indië het nie aan die verwagtinge voldoen nie en nie die uitklopfase gehaal nie.[4] Suid-Afrika kon nie aan die krieketwêreldbeker deelneem nie as gevolg van ’n sportboikot teen dié land weens sy voortgesette apartheidsbeleid. Zimbabwe het vir ’n tweede keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem, terwyl al die ander spanne vir ’n vierde keer verskyn het. Daar was dus geen debutant nie.