Krieketwêreldbeker 1992
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 1992 (Engels: 1992 Cricket World Cup) is van 22 Februarie tot 25 Maart 1992 in Australië en Nieu-Seeland beslis. Dit was die vyfde krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die eerste in die Suidelike Halfrond. Anders as die gewone interval van vier jaar is dit by uitsteek vyf jaar ná die vorige Krieketwêreldbeker 1987 aangebied. Die Krieketwêreldbeker 1992 is deur die sigarethandelsmerk Benson & Hedges geborg en staan dus amptelik bekend as die Benson & Hedges Wêreldbeker 1992.
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 1992 | |
Datums | 22 Februarie – 25 Maart |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Australië Nieu-Seeland |
Kampioen | Pakistan (1ste titel) |
Naaswenner | Engeland |
Deelnemers | 9 (26 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 39 |
Speler van die reeks | Martin Crowe |
Meeste lopies | Martin Crowe (456)[1] |
Meeste paaltjies | Wasim Akram (18)[2] |
← 1987 1996 → |
Nege nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 1992 deelgeneem: Die destydse agt toetskrieketlande (Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië), saam met die IKK-trofee 1990-wenner Zimbabwe. Tydens die Krieketwêreldbeker 1992 is 39 wedstryde gespeel, waaronder 36 tydens die groepfase en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Al die spanne het in een groep gespeel en elke span het een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel. Die vier beste spanne het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan. ’n Soortgelyke formaat is later in die 2019-toernooi in Engeland aangewend en sal ook by die volgende Krieketwêreldbeker 2023 in Indië gebruik word.[3]
Engeland, Nieu-Seeland, Pakistan en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Engeland het Suid-Afrika en Pakistan het Nieu-Seeland geklop, voordat Pakistan die eindstryd op Melbourne-krieketveld in Melbourne teen Engeland met 22 lopies gewen en sodoende sy eerste titel ingepalm het. Die verdedigende kampioen en medegasheer Australië is reeds in die groepfase uitgeskakel en het daarmee die eerste gasheerland en verdedigende kampioen in die Krieketwêreldbekergeskiedenis geword wat nie tot die uitklopfase deurgedring het nie. Dit is die laaste keer tot in die 2019-toernooi wat twee spanne in die eindwedstryd ontmoet wat nog nie ’n titel ingepalm het nie. Nadat Suid-Afrika ná die einde van apartheid weer as toetsland by die Internasionale Krieketraad aangesluit het, het die Proteas vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbeker deelgeneem. Zimbabwe het vir ’n derde keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem, terwyl al die ander spanne vir ’n vyfde keer verskyn het.
Die Krieketwêreldbeker 1992 was die eerste waartydens gekleurde spelertruie, wit krieketballe, sigskerms en spreiligte gebruik is. Die ingevoerde reënreël, wat die ou stelsel se probleme met reën sou oplos, is ná die toernooi as onsuksesvol beskou. Die hoofrede hiervoor was die halfeindstryd tussen Engeland en Suid-Afrika.[4]