Loma Prieta-aardbewing
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Loma Prieta-aardbewing het die metropolitaanse gebied van San Francisco in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië op 17 Oktober 1989 om 5:04 n.m. geskud en het 6,9 op die moment-magnitude-skaal gemeet (oppervlak-golf magnitude: 7,1). Die aardbewing het 15 sekondes geduur. Sy episentrum was by die geografiese koördinate 37.04° N 121.88° W suid-suidoos van die Loma Prieta-bergpiek in die Aptos-streek, 'n nie-geïnkorporeerde gebied in 'n bosgebied van die Santa Cruz-bergreeks (Nisene Marks Staatspark) geleë, sowat 16 kilometer noordoos van die stad Santa Cruz. Die aardbewing se fokuspunt was teen 'n diepte van 16,79 kilometer.
Die Loma Prieta word as 'n sterk aardbewing geklassifiseer, wat nog oor 'n afstand van 110 kilometer van sy episentrum groot skade berokken het. Die gebiede wat die swaarste getref is, was die stadsgebiede van San Francisco en Oakland, die San Francisco-skiereiland, en die munisipaliteite Santa Cruz, Montereybaai, Watsonville en Los Gatos, wat naby Loma Prieta se episentrum geleë is.
Die skeuring van die aardkors het in twee rigtings verdeel, en San Francisco en Oakland is net ses sekondes lank geskud. Sou die volle energie van Loma Prieta in 'n noordwaartse rigting beweeg het, sou die aardbewing dié twee stede twee keer so lank geskud het. Nogtans was die omvang van die skade in die verafgeleë gebiede aanvanklik 'n raaisel vir geotegnoloë. 'n Ontleding van die aardbewing en die skade wat dit berokken het, het later getoon dat seismiese golwe moontlik deur breuke in die aarde se struktuur, wat teen 'n diepte van sowat 24 kilometer lê, gereflekteer is.
Die skudding was die sterkste in die Santa Cruz-berge waar 'n lorrie omgeslaan en mense op die grond geval het.