Mount Washington, New Hampshire
From Wikipedia, the free encyclopedia
Mount Washington is die hoogste bergpiek in die Noordoostelike Verenigde State op 'n hoogte van 1 917 meter bo seevlak. Die berg staan bekend vir sy uiters wisselvallige weerstoestande en hou die rekord vir die hoogste windsnelheid wat ooit buite 'n orkaan op die aardoppervlak aangeteken is: Die namiddag van 12 April 1934 het die windsnelheid 'n maksimum van 231 myl of 372 kilometer per uur bereik.[1][2]
Mount Washington | |
---|---|
Mount Washington, soos gesien vanuit Bretton Woods | |
Ligging | New Hampshire, Verenigde State |
Hoogte | 1 917 meter bo seevlak |
Reeks | Presidential-bergreeks |
Koördinate | 44°16′14.98″N 71°18′12.54″W |
Eerste bestyging | 1642 |
Maklikste roete | Staptoer/tandradbaan (winter) NH Roete 16 (somer) |
Die Eerste Nasies het na die berg as Agiocochook of "Tuiste van die Groot Gees" verwys.[2]
Mount Washington lê in die Presidential-bergreeks van New Hampshire se White Mountains in die Coos-distrik. Dit is die derde hoogste bergpiek in die oostelike Verenigde State ná Mount Mitchell in Noord-Carolina op 2 037 meter bo seevlak en Clingmans Dome in Tennessee op 2 025 meter – en volgens sy relatiewe hoogte in topografiese opsig selfs die hoogste bergpiek in die Amerikaanse ooste.
Die grootste deel van Mount Washington is in die White Mountain National Forest geleë, alhoewel 'n gebied van 0,24 vierkante kilometer, wat die kruin en sy onmiddellike omgewing insluit, deel uitmaak van die Mount Washington State Park.