Mynbedryf van Suid-Afrika
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die mynbedryf van Suid-Afrika was die vernaamste dryfkrag[1] agter die geskiedenis en ontwikkeling van Afrika se mees gevorderde en rykste ekonomie.[2] Grootskaalse en winsgewende mynbou het begin met die ontdekking van diamante op die oewer van die Oranjerivier in 1867 deur Erasmus Jacobs en die daaropvolgende ontdekking en ontginning van die Kimberley-pype 'n paar jaar later. Die goudstormlope van Pelgrimsrus en Barberton was voorlopers van die grootste ontdekking van almal, die Hoofrifgidslaag op Gerhardus Oosthuizen se plaas Langlaagte, Deel C, in 1886, die Witwatersrand-goudstormloop en die daaropvolgende ontwikkeling van die goudveld daar, die grootste van almal.
Diamant- en goud-produksie is nou veel laer as op hul hoogtepunte, hoewel Suid-Afrika steeds nr. 5 in goud is,[3] maar Suid-Afrika bly 'n horing van oorvloed van minerale rykdom. Die land is die wêreld se grootste produsent[4] van chroom, mangaan, platinum, vanadium en vermikuliet. Hy is die naasgrootste produsent[5] van ilmeniet, palladium, rutiel en sirkonium. Hy is ook die wêreld se derde grootste steelkooluitvoerder.[6] Suid-Afrika is ook 'n groot produsent van ystererts; in 2012 het hy Indië verbygegaan om die wêreld se derde grootste verskaffer van ystererts aan China te word, die wêreld se grootste verbruiker van ystererts.[7]
Weens 'n geskiedenis van korrupsie en wanadministrasie in die Suid-Afrikaanse mynsektor het Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, aan die begin van 2013 aangekondig dat mynmaatskappye wat onderduims is se lisensie opgeskort kan word.[8]