Potchefstroomse Universiteitskoor
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Potchefstroomse Universiteitskoor (Engels: Potchefstroom University Choir) is gesetel op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.
Potchefstroomse Universiteitskoor | |
---|---|
![]() Logo van die Potchefstroomse Universiteitekoor | |
Agtergrondinligting | |
Ook bekend as | Potchefstroom University Choir |
Oorsprong | Potchefstroom, Suid-Afrika |
Jare aktief | 1955 |
Gewese lede | Kobie van Rensburg |
Die Potchefstroomse Universiteitskoor is in 1955 gestig o.l.v. prof. Pieter de Villiers. Die koor was van 1976 tot 2011 onder leiding van prof. Awie van Wyk, wat ’n bekroonde Suid-Afrikaanse komponis en dirigent is. Sedert 2012 staan die koor onder leiding van Kobus Venter. Die koor onderneem jaarliks een binnelandse toer (dit sluit Namibië in) en een keer elke vyf jaar ’n oorsese toer. Die koor het reeds agt oorsese toere beleef, in 1981, 1987, 1993, 1997, 2003, 2008, 2011 en 2014. Die oorhoofse doel van die toere is om kulturele bande te bou met die buiteland en om Suid-Afrikaanse koormusiek daar blootstelling te gee.
Die koor bestaan uit gemengde stemme en die lede is almal bona fide studente van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Die ouderdomme van die lede wissel dus van 18 tot 23 en studeer ’n verskeidenheid rigtings van ingenieurswese tot onderwys. Die koor ontvang gereeld uitnodigings van staatsinstellings, korporatiewe organisasies, ander universiteite, kerke en kulturele organisasies van dwarsoor die land vir optredes. Die koor het onder meer opgetree by die inhuldiging van mnr. F.W. de Klerk en mnr. Nelson Mandela. Die koor is genooi deur die Internasionale Sentrum vir Koormusiek (in België) om die jaarlikse gaskoor te wees in 2003, en het reeds twee keer aan die Internationaler Chorwettbewerb in Spittal an der Drau in Oostenryk deelgeneem.
Van die groot werke wat die koor, onder orkesbegeleiding, opgevoer het sluit in Carmina Burana (van Orff), Requiem (van Mozart), St. Mattheus Passie (van Bach), Messiah (van Händel), Kroningsmis (Coronation Mass) (van Mozart), Petite Messe Solennelle (van Rossini), Requiem (van Fauré), Requiem (van Brahms), Requiem (van Watt), Misa Criolla en Navidad Nuestra (van Ramírez), Missa Choralis (van Liszt) en Mother and Child (van Tavener).
Verskeie klank- en televisieopnames is al deur die koor gedoen en dit word gereeld gebruik, veral op RSG en Classic FM. Die koor het reeds ses laserskrywe vrygestel.