From Wikipedia, the free encyclopedia
Rùm (Skots-Gaeliese uitspraak: [rˠuːm], Engels: [rʌm]) is die grootste van die sogenaamde Small Isles of Klein Eilande van die Binne-Hebride in die Lochaber-distrik, Skotland. Vir die grootste deel van die 20ste eeu het die eiland bekend gestaan as Rhum, 'n spelling wat deur die vroeëre eienaar van die eiland George Bullough, 1st Baronet Bullough ingevoer is - om praktiese redes: hy was glad nie bereid om die titel Laird of Rum te dra nie.
Rùm | |
---|---|
Ligging | |
OS-roosterverwysing: | NR360976 |
Naam | |
Skots-Gaeliese naam: | Rùm |
Noorse naam: | Rõm-øy |
Betekenis van die naam: | Oudnoors vir 'Yula se eiland' |
Oppervlak en Piek | |
Oppervlak: | 10 463 ha |
Oppervlak rang (Skotse eilande): | 15 |
Hoogste punt: | Askival 812 m (2 664 vt) |
Bevolking | |
Bevolking (2001): | 22 |
Bevolking rang (bewoonde Skotse eilande): | 64 uit 97 |
Hoofnedersetting: | Kinloch |
Groeperings | |
Eilandgroep: | Small Isles |
Plaaslike Owerheid | Lochaber |
Verwysings: |
'n Bynaam van Rùm was "Verbode Eiland" - die eiland was oor 'n lang tydperk in privaat besit van Sir George Bullough, 'n tekstielnyweraar uit Lancashire, wat hier tussen 1897 en 1900 sy eie Victoriaanse kasteel, Kinloch Castle, as somerwoning laat bou het. In 1903 het hy hier met Monica Charrington getrou. Toegang tot die eiland, wat ook as die familie se privaat jaggrond gedien het, was beperk tot die Bulloughs se gaste. Vreemdelinge, wat gedurf het om hier op eie inisiatief voet aan wal te sit, kon verwag dat 'n geweerloop op hulle gerig is.
Rùm is die 15de grootste eiland in Skotland, met 'n bevolking van slegs 22 in die gehuggie Kinloch aan Rùm se ooskus. Die eerste bewoners het hulle reeds in die 8de millennium v.C. op die eiland gevestig wat van Rùm een van die oudste bekende bewoonde plekke in Skotland maak. Vroeë Keltiese en Noorse setlaars het min spore gelaat, behalwe vir enkele historiese dokumente en voorwerpe. Tussen die 12de en 13de eeu het Rùm onder die beheer van 'n verskillende Skotse clans gekom, onder wie die MacLeans van Coll.
Teen die laat 18de eeu het die inwonertal sy historiese maksimum van meer as 400 bereik. Die eiland is tussen 1826 en 1828 ontruim - deelsaaiers (crofters) is, soos mense in die Skotse Hoogland, van hul land verdryf en onder dwang in Nova Scotia, Kanada (destyds Brits-Noord-Amerika) hervestig om plek te maak vir troppe skape. Later het die eiland die privaat besit van die Bullough-familie geword wat hier 'n luukse lewe gelei het.
Een van die gaste, wat die familie se berugte partytjies verskeie kere in die geheim bygewoon het, was koning Edward VII van die Verenigde Koninkryk. Gaiety girls en prostitute is vir hierdie geleenthede met 'n spesiale trein na Oban en van daar met Sir George se luukse jag Rhouma na die eiland geneem.[1] Tussen die partytjies het Sir George se omvangryke privaat biblioteek met erotiese literatuur prikkelende leesstof verskaf.
Sir George en Lady Bullough, 'n vroeëre maîtresse van koning Edward VII wat 'n openbare skandaal vir die koningshuis vermy het deur haar huwelik met Sir George, het verkies om op Rùm elkeen hul eie lewe te lei en hul eie gaste uit te nooi.
In 1957 is Rùm deur die Nature Conservancy Council gekoop. Die eiland word tans deur Scottish National Heritage bestuur. Daar is akkommodasiegeriewe vir toeriste, maar ook dagtoeriste het die moontlikheid om die eiland met 'n veerboot te besoek en Kinloch Castle te besigtig. Die kasteel is vandag een van die bes bewaarde hoërklas-wonings met 'n interieur en meubilering uit die Edwardiaanse tydperk. Nogtans bly sy toekoms onseker omrede die gebou omvattende restourasiewerk benodig. Die Bulloughs het daarnaas hul eie mausoleum op Rùm laat oprig.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.