![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/8/89/Biblia_Ruska.jpg/640px-Biblia_Ruska.jpg&w=640&q=50)
Russiese Bybelvertalings
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die tradisie van Bybelvertalings in Rusland begin met weergawes van die Bybel in Ou Kerkslawies. Die Elisabethaanse Bybel (Russies: Елизаветинская Библия, Jelizawetinskaja Biblija) is die derde volledige gedrukte weergawe in Kerkslawies, en is in 1751 in Rusland gepubliseer onder die Russiese keiserin Elisabeth. Die vorige weergawes was die Ostrogbybel van 1581 en die Moskoubybel van 1663.
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/8/89/Biblia_Ruska.jpg/640px-Biblia_Ruska.jpg)
Die eerste Bybel in Russiese streekstaal het in 1876 verskyn.[1] Ná die stigting van die Russiese Bybelgenootskap in 1812 in Sint Petersburg is ’n vertaling met die toestemming van tsaar Alexander I aangepak deur Filaret, rektor van die Teologiese Akademie van Sint Petersburg (later metropolitaan van Moskou), en ander lede van die akademie.
Die Evangelies is in 1818 gepubliseer en die hele Nuwe Testament in 1822. Ook in 1822 is Filaret se vertaling van die Psalms gepubliseer. In 1825 is die Pentateug, Josua, Rigters en Rut uitgereik. In 1826 is die Bybelgenootskap saam met verskeie privaat organisasies verbied en die vertaling is eers in 1858 hervat. In 1876 is die hele Bybel in een volume gepubliseer. Dit word die Sinodale Weergawe genoem. Die boeke van die Ou Testament volg die orde van die Septuagint en die Kerkslawiese Bybel, hoewel dit op die Hebreeuse Bybel geskoei is. Die Apokriewe boeke vorm ook deel van die Russiese Bybel.