T20I-wêreldbeker 2007
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker 2007 (Engels: 2007 ICC World Twenty20) is van 11 tot 24 September 2007 in Suid-Afrika beslis. Dit was die eerste T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Destyds is dié toernooi Wêreldtwintig20 2007 genoem, maar sedert die 2021-toernooi staan dit as T20I-wêreldbeker bekend.[3] Ná die Krieketwêreldbeker 2007 in Maart en April in Wes-Indië was dit die tweede groot kriekettoernooi in 2007. Daarbenewens was dit ná die Krieketwêreldbeker 2003 die tweede groot kriekettoernooi in Suid-Afrika; dié land sou twee jaar later ook die Kampioenetrofee 2009 aanbied, waarmee Suid-Afrika die eerste land geword het wat al drie vername kriekettoernooie gehuisves het.
Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2007 | |
Datums | 11 September – 24 September |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Twintig20 (T20I) |
Toernooiformaat | Eerste rondte, Super Agt en uitklopfase |
Gashere | Suid-Afrika |
Kampioen | Indië (1ste titel) |
Naaswenner | Pakistan |
Deelnemers | 12 (16 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 27 |
Speler van die reeks | Shahid Afridi |
Meeste lopies | Matthew Hayden (265)[1] |
Meeste paaltjies | Umar Gul (13)[2] |
← Geen 2009 → |
Twaalf nasionale krieketspanne het aan die T20I-wêreldbeker 2007 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die Wêreldkrieketliga se afdeling een 2007-wenners (Kenia en Skotland). Tydens die T20I-wêreldbeker 2007 is 27 wedstryde gespeel, waaronder twaalf in die eerste rondte, twaalf in die Super Agt en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van drie spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Agt gekwalifiseer. In die Super Agt is die spanne in twee groepe van vier spanne elk verdeel, waarvan die twee beste spanne tot die halfeindrondte gevorder en die wenners van hierdie wedstryde in die eindstryd ontmoet het.
Australië, Indië, Nieu-Seeland en Pakistan het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Pakistan het Nieu-Seeland en Indië het Australië geklop, waardeur die twee aartsvyande Indië en Pakistan in die eindstryd ontmoet het. Indië het Pakistan in die eindstryd op Wanderers in Johannesburg met vyf lopies verslaan en sodoende die eerste T20I-wêreldbekerwenner geword.[4] Saam met hul oorwinnings tydens die Krieketwêreldbeker 1983 en die gedeelde titel met Sri Lanka tydens die Kampioenetrofee 2002 was dit Indië se derde internasionale kriekettitel. Die gasheer Suid-Afrika is in die Super Agt uitgeskakel.