Topsy Smith
Suid-Afrikaanse skrywer / From Wikipedia, the free encyclopedia
Topsy Smith (12 Julie 1914 – 5 Maart 1985) was 'n Afrikaanse skrywer wat ongeveer 200 boeke geskryf het. Hy is veral bekend vir sy jeugverhale, onder andere reekse soos Trompie, Saartjie (onder die skuilnaam Bettie Naudé) en Buksie. Sy boeke het 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer en het jongmense vir baie jare lank lus en lief vir lees gemaak.[1]
Topsy Smith | |
---|---|
Gebore | Mathys Gerhardus Smith 12 Julie 1914 |
Sterf | 5 Maart 1985 (op 70) |
Nasionaliteit | Suid-Afrikaans |
Beroep | Skrywer, onderwyser |
Bekend vir | Jeugboeke |
Eggenoot | Josie Stuart-Bertram |
Kinders | Anthony Smith Shona Smith |
Die eerste Trompie-verhaal is in 1950 gepubliseer, met opvolgstories wat tot 1956 verskyn het. Die TV-reeks Trompie, wat op sy boeke gebaseer is, is in 1980 uitgesaai met Anton Goosen wat die bekende kenwysie gesing het. Die Saartjie-reeks het die eerste keer in 1953 verskyn en is tot 1958 gepubliseer. Beide die reekse is verskeie kere daarna herpubliseer. Sy laaste boek, Nog net een keer, is in 1991, ses jaar ná sy dood, gepubliseer.[2] Sy fiksie vir volwassenes word meestal onder die skuilnaam M.G. Smith gepubliseer.