Turks-Siriese aardbewings van 2023
From Wikipedia, the free encyclopedia
Op 6 Februarie 2023, om 04:17 TRT (01:17 UTC), het 'n Mw 7.8 aardbewing suidelike en sentrale Turkye en noordelike en westelike Sirië getref. Die episentrum was 37 km wes-noordwes van Gaziantep. Die aardbewing het 'n maksimum Mercalli-intensiteit van XII (Ekstreem) rondom die episentrum en in Antakya gehad. Dit is gevolg deur 'n Mw 7.7 aardbewing om 13:24. Hierdie aardbewing was 95 km noord-noordoos vanaf die eerste gesentreer. Daar was wydverspreide skade en tienduisende sterftes.
Die Mw 7.8-aardbewing is die grootste in Turkye sedert die 1939 Erzincan-aardbewing van dieselfde omvang,[1] en gesamentlik die tweede grootste in die land, na groter skattings vir die 1668 Noord-Anatolië-aardbewing.[2] Dit is ook een van die sterkste aardbewings wat nog in die Levant aangeteken is. Dit is tot by Egipte en die Swartseekus van Turkye gevoel. Daar was meer as 30 000 naskokke in die drie maande wat gevolg het.[3] Die seismiese volgorde was die gevolg van vlak slaan-glipverskuiwings langs segmente van die Oos-Anatoliese en Sürgü–Çardak-verskuiwings.
Daar was wydverspreide skade in 'n gebied van ongeveer 350 000 km2, omtrent so groot soos Duitsland.[4] Na raming is 14 miljoen mense, of 16 persent van Turkye se bevolking, geraak.[5] Ontwikkelingskundiges van die Verenigde Nasies het beraam dat ongeveer 1,5 miljoen mense dakloos gelaat is.[6]
Die bevestigde dodetal het op 59 259 gestaan: 50 783 in Turkye en 8 476 in Sirië. Dit is die dodelikste aardbewing in die huidige Turkye sedert die 526 Antiogië-aardbewing[7] en die dodelikste natuurramp in sy moderne geskiedenis.[8] Dit is ook die dodelikste in die huidige Sirië sedert die 1822 Aleppo-aardbewing;[9] die dodelikste wêreldwyd sedert die 2010 Haïti-aardbewing;[10] en die vyfde dodelikste van die 21ste eeu.[11] Skade is geskat op US$104 miljard in Turkye en US$14.8 miljard in Sirië, wat hulle die vierde duurste aardbewings op rekord maak.
Beskadigde paaie, winterstorms en ontwrigting van kommunikasie het die Ramp- en Noodbestuurpresidensie se redding- en noodlenigingspoging belemmer, wat 'n 60 000 sterk soek-en-reddingsmag,[12] 5 000 gesondheidswerkers[13] en 30 000 vrywilligers ingesluit het.[14] Na Turkye se oproep om internasionale hulp, het meer as 141 000 mense uit 94 lande by die reddingspoging aangesluit.[15]