Vlag van Suid-Afrika (1928–1994)
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die vlag van Suid-Afrika tussen 1928 en 1994 is oorspronklik deur die Unie van Suid-Afrika (1928–1961) en later deur die Republiek van Suid-Afrika (tot 1994) gebruik. Dit is tot in 1990 ook in Suidwes-Afrika (die huidige Namibië) gebruik, aangesien dié gebied onder Suid-Afrikaanse gesag was. Die vlag is op die Prinsevlag gebaseer en vertoon die vlag van die Verenigde Koninkryk, die vlag van die Oranje-Vrystaat en die vlag van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal se Vierkleur) in ’n kleiner middelblok vertoon.[4] Die vlag se bynaam is die Oranje, Blanje, Blou.[1]
Bynaam | “Oranje, Blanje, Blou”,[1] “Unievlag”,[2][3] “Apartheidsvlag” |
---|---|
Gebruik | Nasionale vlag en Burgerlike- en Staatsvaandel |
Verhouding | 2:3 |
Goedgekeur | 31 Mei 1928 |
Ontwerp | Drie horisontale bane in oranje, wit en blou met drie klein vlaggies (die Union Jack links, die vertikale weergawe van die vlag van die Oranje-Vrystaat in die sentrum en die vlag van die Zuid-Afrikaansche Republiek [Transvaal se Vierkleur] regs) op die wit baan. |
Gebruik | Vlootvaandel |
Verhouding | 1:2 |
Ontwerp | ’n Langwerpige weergawe van die ou Suid-Afrikaanse vlag |
Die vlag se ontwerp is in 1928 deur die Parlement onder die eerste Afrikanermeerderheidsregering goedgekeur. In 1948 het die Nasionale Party ná hul oorwinning in die algemene verkiesing tevergeefs gepoog om die vlagontwerp te verander om die vlag, wat hulle die “bloedvlek” (die vlag van die Verenigde Koninkryk) genoem het, te verwyder.[5] Ná republiekwording in 1961 is dit as die nasionale vlag behou, ten spyte van die feit dat Suid-Afrika die Britse Statebond verlaat het. In 1968 het die eerste minister John Vorster voorgestel dat Suid-Afrika vir die tiende herdenking van Republiekwording in 1971 ’n nuwe vlag aanneem.[6] Vorster se idee het egter geen ondersteuning in die Volksraad gekry nie en die vlag is nooit verander nie. Vervolgens is die vlag ook gedurende die apartheidsera gebruik en word dit derhalwe die “Apartheidsvlag” genoem.[7][5] Met die oorgangsgrondwet en die onderhandelinge om apartheid te beëindig is dit in 1994 deur die huidige vlag van Suid-Afrika vervang.
Ná sy verwydering in 1994 bly die vlag van 1928 in Suid-Afrika omstrede, aangesien sommige mense dit as “histories” en ’n simbool van die Afrikanererfenis beskou, terwyl ander dit as ’n simbool van apartheid en “wit oorheersing” beskou. In 2019 het die Gelykheidshof beslis dat openbare vertoning van die vlag as haatspraak geklassifiseer sou word, hoewel uitsonderings toegelaat sou word vir “gevalle van joernalistieke, akademiese en artistieke uitdrukking”.[8]