Anna Anderson

Romanof-bedrieër wat beweer het dat hy die Groothertogin Anastasia van Rusland was (1896–1984). From Wikipedia, the free encyclopedia

Anna Anderson
Remove ads

Anna Anderson (16 Desember 189612 Februarie 1984) is die bekendste van die baie mense wat voorgegee het hulle is ’n oorlewende gesinslid van tsaar Nikolaas II van Rusland ná die moord op die keiserlike gesin. Sy het beweer sy is Nikolaas II se jongste dogter, Anastasia.[1][2] Die regte Anastasia is op 17 Julie 1918 in Jekaterinburg, Rusland, saam met haar ouers, susters en broer deur die Bolsjewiste tereggestel, maar dit was onbekend wat van hulle lyke geword het.

Thumb
Anna Anderson, wat beweer het sy is Anastasia, dogter van tsaar Nikolaas II van Rusland.

In 1920 is Anderson opgeneem in ’n hospitaal vir geestelik versteurdes nadat sy in Berlyn probeer selfmoord pleeg het. Sy het haarself daarna eers Fräulein Unbekannt (Duits vir "Mejuffrou Onbekend") genoem en geweier om haar identiteit bekend te maak. Later het sy eers die van Tschaikovsky en toe Anderson gebruik. In Maart 1922 het bewerings dat sy Anastasia is, vir die eerste keer die publiek se aandag getrek. Die meeste oorlewende lede van die Romanof-familie het gesê dat Anderson jok, maar baie mense het haar geglo. In 1927 het ’n privaat speurder, wat deur die tsarina se broer, Ernst Ludwig, groothertog van Hesse, aangestel is, uitgevind Anderson is Franziska Schanzkowska, ’n Poolse fabriekwerker met ’n geskiedenis van geestelike versteuring. Ná ’n hofsaak wat baie dekades geduur het, het ’n Duitse hof beslis Anderson kon nie bewys dat sy Anastasia is nie.[3]

Tussen 1922 en 1968 het Anderson in Amerika en Duitsland gewoon en in sanatoriums en verpleeginrigtings. Sy het in 1968 na Amerika geïmmigreer en kort voordat haar visum verval het, getrou met Jack Manahan, ’n geskiedenisprofessor van Virginië. Ná haar dood in 1984 is Anderson se lyk veras en in Duitsland begrawe. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie is bekend gemaak waar die lyke van die tsaar, tsarina en al vyf hulle kinders is en verskeie laboratoriums in verskeie lande het hulle identiteit deur middel van DNS-toetse vasgestel.[1][4] Toetse op hare en ander weefsel van Anderson het gewys dat haar DNS nie ooreenstem met die Romanof-familie s’n nie,[5][6] maar wel met dié van Karl Maucher, ’n familielid van Franziska Schanzkowska.[6] Wetenskaplikes, historici en die groot nuusagentskappe aanvaar dat Anderson wel Schanzkowska was.[1][7][8][9][10]

Remove ads

Dalldorf-inrigting (1920-'22)

Op 27 Februarie 1920[11] het ’n onbekende jong vrou in Berlyn probeer selfmoord pleeg deur van die Bendlerstrassebrug in die Landwehrkanaal te spring. Sy is deur ’n polisiesersant gered en opgeneem in die Elisabeth-hospitaal aan Lützowstrasse. Omdat sy nie identiteitsdokumente gehad het nie en geweier het om haarself te identifiseer, is sy as Fräulein Unbekannt ("Mejuffrou Onbekend") opgeneem in ’n geesteshospitaal in Dalldorf (nou Wittenau, in Reinickendorf), waar sy die volgende twee jaar gebly het.[12] Die onbekende pasiënt het littekens aan haar kop en liggaam gehad[13] en het Duits gepraat met ’n aksent wat deur mediese personeel as "Russies" beskryf is.[14]

Thumb
Foto’s wat by die Dalldorf-inrigting van Anna Anderson geneem is ná haar selfmoordpoging in 1920.

Aan die begin van 1922 het Clara Peuthert, ’n medepasiënt in die sielsiekehospitaal, beweer die onbekende vrou is groothertogin Tatjana van Rusland, een van die vier dogters van keiser Nikolaas II.[15] Na haar vrylating het Peuthert aan die Russiese emigrantkaptein Nicholas von Schwabe gesê sy het Tatjana in Dalldorf gesien.[16] Schwabe het die inrigting besoek en die vrou as Tatjana aanvaar.[17] Hy het ander emigrante oorreed om die onbekende vrou te besoek, insluitende Zinaida Tolstoi, ’n vriendin van keiserin Aleksandra. Uiteindelik het barones Sophie Buxhoeveden, ’n voormalige hofdame van die tsarina, saam met Tolstoi die inrigting besoek. Toe sy die vrou sien, het Buxhoeveden verklaar: "Sy is te kort vir Tatjana."[18] Sy het vertrek, oortuig dat die vrou nie ’n Russiese groothertogin was nie.[19] ’n Paar dae later het die onbekende vrou opgemerk: "Ek het nie gesê ek is Tatjana nie."[20]

’n Verpleegster by Dalldorf, Thea Malinovsky, het jare ná die pasiënt se vrylating uit die inrigting beweer die vrou het haar in die herfs van 1921 vertel sy is ’n ander dogter van die tsaar, Anastasia.[21] Die pasiënt self kon egter nie die voorval onthou nie.[22] Haar biograwe ignoreer óf Malinovsky se bewering[23] óf verweef dit in hulle vertelling.[24]

Remove ads

Duitsland en Switserland (1922-'27)

Teen Mei 1922 het Peuthert, Schwabe en Tolstoi geglo die vrou was Anastasia, hoewel Buxhoeveden gesê het daar is geen ooreenkoms nie.[25] Nietemin is die vrou uit die inrigting geneem en ’n kamer gegee in die Berlynse huis van baron Arthur von Kleist, ’n Russiese emigrant wat ’n polisiehoof in Russiese Pole was voor die val van die tsaar. Die Berlynse polisieman wat die saak hanteer het, speurinspekteur Franz Grünberg, het gedink Kleist "het dalk bymotiewe gehad, soos in emigrantkringe gesuggereer is: As die ou toestande ooit in Rusland herstel sou word, het hy groot bevordering verwag danksy die feit dat hy na die jong vrou omgesien het."[26]

Sy het begin om haarself Anna Tschaikovsky te noem,[27] en het "Anna" gekies as ’n kort vorm van "Anastasia",[28] hoewel Peuthert "haar oral as Anastasia beskryf het".[29] Tschaikovsky het in die huise van bekendes gebly, insluitend Kleist, Peuthert, ’n arm werkersklasgesin met die naam Bachmann, en op inspekteur Grünberg se landgoed by Funkenmühle, naby Zossen.[30] By Funkenmühle het Grünberg gereël dat die tsarina se suster, prinses Irene van Hesse en by Ryn, Tschaikovsky ontmoet, maar Irene het haar nie herken nie.[31] Grünberg het ook ’n besoek van kroonprinses Cecilie van Pruise gereël, maar Tschaikovsky het geweier om met haar te praat, en Cecilie is verward deur die ontmoeting gelaat.[32] Later, in die 1950’s, het Cecilie ’n verklaring onderteken dat Tschaikovsky Anastasia was,[33] maar Cecilie se familie het haar verklaring betwis en gesuggereer dat sy demensie het.[34]

Teen 1925 het Tschaikovsky ’n tuberkulose-infeksie aan haar arm ontwikkel, en sy is in opeenvolgende hospitale vir behandeling geplaas. Sy was siek en byna sterwend, en het aansienlik gewig verloor.[35] Sy is besoek deur die tsarina se kamerbediende Aleksei Wolkof; Anastasia se privaat onderwyser Pierre Gilliard; sy vrou, Aleksandra Teglewa, wat Anastasia se kinderoppasser was; en die tsaar se suster, groothertogin Olga. Hoewel hulle simpatie betoon het, al was dit net vir Tschaikovsky se siekte, en geen onmiddellike openbare verklarings gemaak het nie het hulle uiteindelik almal ontken dat sy Anastasia was.[36]

In Maart 1926 het sy herstel op koste van groothertogin Anastasia se grootoom, prins Valdemar van Denemarke. Valdemar was bereid om Tschaikovsky materiële hulp aan te bied, deur die Deense ambassadeur in Duitsland, terwyl haar identiteit ondersoek is.[37] Om haar in staat te stel om te reis, het die Berlynse Vreemdelingekantoor vir haar ’n tydelike identiteitsertifikaat uitgereik as "Anastasia Tschaikovsky", met groothertogin Anastasia se persoonlike besonderhede.[38] Ná ’n rusie met Rathlef is Tschaikovsky in Junie 1926 verskuif na die Stillachhaussanatorium in Oberstdorf in die Beierse Alpe, en Rathlef het na Berlyn teruggekeer.[39]

Thumb
’n Vergelyking van die syprofiele van Anastasia Nikolajewna en Anna Anderson, geskep deur Pierre Gilliard.

By Oberstdorf is Tschaikovsky besoek deur Tatiana Melnik, gebore Botkin. Melnik was die niggie van Serge Botkin, die hoof van die Russiese vlugtelingkantoor in Berlyn, en die dogter van die keiserlike familie se persoonlike geneesheer, Jewgeni Botkin, wat in 1918 saam met die tsaar se gesin deur die kommuniste vermoor is. Tatiana Melnik het groothertogin Anastasia as kind ontmoet en het laas in Februarie 1917 met haar gepraat.[40]

Vir Melnik het Tschaikovsky soos Anastasia gelyk, selfs al "het die mond verander en merkbaar growwer geword, en omdat die gesig so maer is, lyk haar neus groter as wat dit was."[41] In ’n brief het Melnik geskryf: "Haar houding is kinderlik, en oor die algemeen kan sy nie as ’n verantwoordelike volwassene gereken word nie, maar moet soos ’n kind gelei en gedirigeer word. Sy het nie net tale vergeet nie, maar het oor die algemeen die vermoë om akkuraat te vertel verloor … selfs die eenvoudigste stories vertel sy onsamehangend en verkeerd; dit is eintlik net woorde aanmekaargesit in ongrammatikale Duits … Haar gebrek lê duidelik in haar geheue en gesig."[42]

Melnik het verklaar Tschaikovsky was Anastasia, en het aanvaar dat enige onvermoë van haar kant om gebeure te onthou en haar weiering om Russies te praat, veroorsaak is deur haar verswakte fisieke en geestelike toestand.[43] Hetsy onbedoeld deur ’n opregte begeerte om "die pasiënt se swak geheue te help"[44] óf as deel van ’n doelbewuste vertoning,[45] het Melnik vir Tschaikovsky besonderhede van die lewe in die keiserlike familie ingeoefen.

Remove ads

Kasteel Seeon (1927)

Thumb
Franziska Schanzkowska, omstreeks 1913.

In 1927, onder druk van sy familie, het Valdemar besluit om nie verdere finansiële steun aan Tschaikovsky te verskaf nie, en die geld uit Denemarke het opgedroog.[46] Hertog George van Leuchtenberg, ’n verlangse familielid van die tsaar, het haar ’n tuiste gegee by Kasteel Seeon.[47] Die tsarina se broer, Ernst Ludwig, groothertog van Hesse, het ’n privaat speurder, Martin Knopf, aangestel om die bewerings te ondersoek dat Tschaikovsky Anastasia is.

Tydens haar verblyf by Kasteel Seeon het Knopf gerapporteer dat Tschaikovsky eintlik ’n Poolse fabriekwerker genaamd Franziska Schanzkowska is.[48] Schanzkowska het tydens die Eerste Wêreldoorlog in ’n ammunisiefabriek gewerk. Kort nadat haar verloofde aan die front gesneuwel het, het ’n handgranaat uit haar hand geval en ontplof. Sy is aan die kop beseer, en ’n voorman is voor haar dood.[49] Sy het apaties en depressief geword is op 19 September 1916 kranksinnig verklaar[50], en het tyd in twee geestesinrigtings deurgebring.[51] Vroeg in 1920 is sy as vermis aangemeld van haar woonplek in Berlyn, en sedertdien is sy nie weer deur haar familie gesien nie.[52] In Mei 1927 is Franziska se broer Felix Schanzkowski aan Tschaikovsky voorgestel by ’n plaaslike herberg in Wasserburg naby Kasteel Seeon. Leuchtenberg se seun, Dmitri, was heeltemal seker Tschaikovsky is ’n bedrieër en dat Felix haar as sy suster herken het,[53] maar Leuchtenberg se dogter, Natalie, het oortuig gebly van Tschaikovsky se egtheid.[54] Leuchtenberg self was dubbelsinnig.[55] Volgens een verslag het Felix aanvanklik verklaar Tschaikovsky is sy suster Franziska,[56] maar die beëdigde verklaring wat hy onderteken het, het slegs melding gemaak van ’n "sterk ooreenkoms", het fisiese verskille uitgelig en gesê sy het hom nie herken nie.[57] Jare later het Felix se familie gesê hy het geweet Tschaikovsky is sy suster, maar het verkies om haar aan haar nuwe lewe oor te laat, wat baie geriefliker was as enige alternatief.[58]

Besoekers aan Seeon het ingesluit prins Feliks Joesoepof, man van Anastasia se niggie aan vaderskant prinses Irina Aleksandrowna van Rusland, wat geskryf het:

Ek verklaar kategories dat sy nie Anastasia Nicolajewna is nie, maar net ’n avonturier, ’n siek histerielyer en ’n vreeslike toneelspeelster. Ek kan eenvoudig nie verstaan hoe enigiemand hieroor kan twyfel nie. As jy haar gesien het, is ek oortuig daarvan dat jy sou teruggedeins het van afgryse by die gedagte dat hierdie vreeslike skepsel ’n dogter van ons tsaar kan wees.[59]

Ander besoekers, soos Felix Dassel, ’n offisier wat Anastasia in 1916 in die hospitaal besoek het, en Gleb Botkin, wat Anastasia as kind geken het en Tatiana Melnik se broer was, was egter oortuig daarvan dat Tschaikovsky eg is.[60]

Remove ads

Verenigde State (1928-'31)

Teen 1928 het Tschaikovsky se aanspraak belangstelling en aandag in die Verenigde State ontlok, waar Gleb Botkin artikels gepubliseer het ter ondersteuning van haar saak.[61] Botkin se publisiteit het die aandag getrek van ’n veraf niggie van Anastasia, Xenia Leeds, ’n voormalige Russiese prinses wat met ’n ryk Amerikaanse nyweraar getroud was.[62] Botkin en Leeds het gereël dat Tschaikovsky op Leeds se koste na die Verenigde State vaar.[63] Op die reis na die VSA het Tschaikovsky Parys aangedoen, waar sy groothertog Andrei Wladimirowitsj van Rusland, die tsaar se neef, ontmoet het. Hy het geglo sy is Anastasia.[64] Tschaikovsky het ses maande lank op die landgoed van die Leeds-familie in Oyster Bay, New York, gewoon.[65]

Thumb
Die pianis en komponis Sergei Rachmaninoff het betaal dat Anna in Long Island bly, waar sy die naam Anderson vir die eerste keer gebruik het.

Terwyl die 10de herdenking van die tsaar se teregstelling in Julie 1928 nader gekom het, het Botkin ’n prokureur, Edward Fallows, aangestel om toesig te hou oor regstappe om enige deel van die tsaar se boedel buite die Sowjetunie te bekom. Omdat die dood van die tsaar nooit bewys is nie, kon die boedel eers 10 jaar ná die veronderstelde datum van sy dood aan familielede beskikbaar gestel word.[66] Buiten ’n betreklik klein deposito in Duitsland, wat onder die tsaar se erkende familielede versprei is, is geen geld egter ooit gevind nie.[67] Ná ’n rusie, moontlik oor Tschaikovsky se aanspraak op die boedel,[68] het Tschaikovsky uit die Leeds se herehuis getrek, en die pianis Sergei Rachmaninoff het gereël dat sy in die Garden City Hotel in Hempstead, New York, woon en later in ’n klein kothuis. Om die pers te vermy, is sy geregistreer as mev. Anderson, die naam waaronder sy later bekend gestaan het.[69]

In Oktober 1928, ná die dood van die tsaar se moeder, Maria Fjodorowna, het die 12 naaste familielede van die tsaar by Maria se begrafnis vergader en ’n verklaring onderteken wat Anderson as ’n bedrieër veroordeel het.[70] Die Kopenhagen-verklaring, soos dit bekend sou word, het verduidelik: "Ons pligsbesef dwing ons om te verklaar dat die verhaal slegs ’n sprokie is. Die nagedagtenis van ons dierbare afgestorwene sou geskaad word as ons hierdie fantasieverhaal sou toelaat om te versprei en enige geloofwaardigheid te kry."[71]

Vanaf vroeg in 1929 het Anderson saam met Annie Burr Jennings gewoon. Sy was 'n ryk oujongnooi van Park Avenue wat bly was om iemand te huisves wat sy gedink het die tsaar se dogter is.[72] 18 maande lank was Anderson die pronkstuk van die New Yorkse samelewing.[73] Toe het ’n patroon van selfvernietigende gedrag begin: woede-uitbarstings, die doodmaak van haar troetelparkiet[74] en sy het een keer selfs kaal op die dak rondgehardloop.[75] Op 24 Julie 1930 het regter Peter Schmuck van die hooggeregshof van New York ’n bevel onderteken om haar na ’n sielsiekehospitaal te stuur.[76] Voordat sy daarheen gebring kon word, het Anderson haarself in haar kamer toegesluit, en die deur is met ’n byl oopgebreek. Sy is met geweld na die Four Winds-sanatorium in Westchester, New York, geneem waar sy net meer as ’n jaar gebly het.[77]

In Augustus 1931 het Anderson na Duitsland teruggekeer, vergesel van ’n privaat verpleegster in ’n geslote kajuit op die passasierskip Deutschland.[78] Jennings het die reis, die verblyf by die Westchester-sanatorium, en nog ses maande se sorg in die psigiatriese vleuel van ’n verpleegtehuis by Ilten naby Hannover betaal.[79] Met haar aankoms in Ilten is Anderson as gesond van gees verklaar,[80] maar aangesien die kamer vooruitbetaal was en sy nêrens anders gehad het om heen te gaan nie, het sy in ’n suite op die sanatoriumterrein aangebly.[81]

Remove ads

Duitsland (1931-'68)

Anderson se terugkeer na Duitsland het persbelangstelling ontlok en sy het die simpatie van nog lede van die Duitse aristokrasie gekry.[82] Sy het weer begin rondwoon as gas van haar weldoeners.[83] In 1932 het die Britse sensasiekoerant News of the World ’n opspraakwekkende storie gepubliseer waarin sy daarvan beskuldig is dat sy ’n Roemeense aktrise is wat bedrog pleeg.[84] Haar prokureur het ’n lastersaak aanhangig gemaak, maar die lang proses het voortgeduur tot die uitbreek van Tweede Wêreldoorlog, toe die saak van die hand gewys is omdat Anderson in Duitsland gewoon het en Duitse inwoners nie mense in vyandelike lande kon dagvaar nie.[82] Van 1938 af het prokureurs namens Anderson in Duitsland die verspreiding van die tsaar se boedel onder sy erkende familielede betwis, en hulle het op hulle beurt haar identiteit betwis.[85] Die geding het afwisselend dekades lank voortgeduur, sonder oplossing. Lord Louis Mountbatten het sommige van sy Duitse familielede se regskostes teen Anderson betaal.[86] Die uitgerekte verrigtinge was die langste hofsaak in die Duitse geskiedenis.[87]

Anderson het in 1938 ’n laaste ontmoeting met die Schanzkowski-familie gehad. Gertrude Schanzkowska het volgehou dat Anderson haar suster, Franziska, is,[88] maar die Naziregering het die ontmoeting gereël om Anderson se identiteit vas te stel; en as sy as Schanzkowska aanvaar word, sou sy gevange geneem word.[89] Die Schanzkowski-familie het geweier om beëdigde verklarings teen haar te onderteken, en geen verdere stappe is geneem nie.[90] Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Anderson in Schloss Winterstein saam met Louise van Sakse-Meiningen gewoon, in wat die Sowjet-besettingsone geword het. In 1946 het prins Frederik van Sakse-Altenburg haar oor die grens na Bad Liebenzell in die Franse besettingsone help kom.[91]

Prins Frederik het Anderson gevestig in ’n voormalige leërkaserne op die dorpie Unterlengenhardt, aan die rand van die Swartwoud, waar sy ’n soort toeristeaantreklikheid geword het.[92] Lili Dehn, ’n vriendin van keiserin Aleksandra, het haar besoek en as Anastasia erken,[93] maar toe Charles Sydney Gibbes, die Engelse privaat onderwyser van die keiserlike kinders, Anderson ontmoet, het hy haar as ’n bedrieër veroordeel.[94] In ’n beëdigde verklaring het hy gesê: "Sy lyk op geen manier soos die ware groothertogin Anastasia wat ek geken het nie ... Ek is heeltemal seker sy is ’n bedrieër."[95]

Anderson het ’n kluisenaar geword, omring deur katte, en haar huis het vervalle geraak.[96] In Mei 1968 is Anderson na ’n hospitaal in Neuenbürg geneem nadat sy halfbewusteloos in haar huis ontdek is. In haar afwesigheid het prins Frederik die eiendom op bevel van die plaaslike gesondheidsraad laat skoonmaak.[97] Haar Ierse wolfhond en 60 katte is doodgemaak.[98] Anderson was verskrik hieroor en het haar langtermynondersteuner Gleb Botkin se aanbod aanvaar om terug te verhuis na die Verenigde State.[99]

Remove ads

Finale jare (1968-'84)

Thumb
Anderson se langtermyn-ondersteuner Gleb Botkin, omstreeks 1960.

Botkin het op die universiteitsdorp Charlottesville, Virginië, gewoon en ’n plaaslike vriend van hom, die geskiedenisprofessor en genealoog John Eacott "Jack" Manahan het vir Anderson se reis na die Verenigde State betaal.[100] Sy het die land binnegekom op ’n besoekersvisum vir ses maande en kort voordat dit sou verval, het sy op 23 Desember 1968 in ’n burgerlike seremonie getrou met Manahan, wat 20 jaar jonger as sy was. Botkin was die strooijonker.[101] Jack Manahan het van dié geriefshuwelik gehou[102] en homself beskryf as "groothertog-in-afwagting"[103] of "skoonseun van die tsaar".[104]

Die egpaar het in aparte slaapkamers gebly in ’n huis in University Circle in Charlottesville, en het ook ’n plaas naby Scottsville besit.[105] Botkin is in Desember 1969 oorlede.[106] In Februarie van die volgende jaar, 1970, het die hofsake uiteindelik tot ’n einde gekom, sonder dat enige party Anderson se identiteit kon bevestig.[107]

Manahan en Anderson, nou wettig bekend as Anastasia Manahan,[108] het goed bekend geword in die Charlottesville-omgewing as eksentrieke figure.[109] Al was Jack Manahan welgesteld, het hulle in vuil en armoedige omstandighede geleef met groot getalle honde en katte, en hope vullis.[110] Op 20 Augustus 1979 is Anderson na die hospitaal in Charlottesville gebring met ’n dermobstruksie. ’n Gangreneagtige gewas en ’n stuk van haar derm is deur dr. Richard Shrum verwyder.[111]

Met beide Manahan en Anderson se gesondheid wat agteruitgegaan het, is Anderson in November 1983 in ’n inrigting opgeneem en ’n prokureur, William Preston, is deur die plaaslike hof as haar voog aangestel.[112] ’n Paar dae later het Manahan Anderson uit die hospitaal "ontvoer"[113] en hulle het drie dae lank deur Virginië rondgery. Nadat hulle in 13 state gesoek is, is hulle opgespoor en Anderson is teruggebring na ’n versorgingsgerief.[114]

In Januarie is vermoed sy het ’n beroerte gehad en op 12 Februarie 1984 is sy aan longontsteking oorlede.[115] Sy is dieselfde dag veras, en haar as is op 18 Junie 1984 in die kerkhof by Klooster Seeon begrawe.[116] Manahan is op 22 Maart 1990 oorlede.[117]

Remove ads

DNS-getuienis

In 1991 is die liggame van keiser Nikolaas, keiserin Aleksandra en drie van hulle dogters opgegrawe uit ’n massagraf naby Jekaterinburg. Hulle is geïdentifiseer op grond van beide skeletontledings en DNS-toetse.[118] Mitochondriale DNS (mtDNS) is byvoorbeeld gebruik om moederlike verwantskappe te bepaal. mtDNS uit die vroulike bene het ooreengestem met dié van prins Philip, hertog van Edinburg, wie se ouma aan moederskant, prinses Victoria van Hesse-Darmstadt, ’n suster van Aleksandra was.[118] Die liggame van Aleksei en die oorblywende dogter is in 2007 ontdek. Herhaalde en onafhanklike DNS-toetse het bevestig dat die oorskot dié van die sewe lede van die Romanofgesin was, en het bewys dat geen van die tsaar se vier dogters die skietery van die Romanofs oorleef het nie.[119][120][120]

DNS van ’n monster van Anderson se weefsel, deel van haar derm wat in 1979 tydens ’n operasie verwyder is, is vergelyk met dié van die Romanofs en hulle familielede. Dit het nie ooreengestem met dié van die hertog van Edinburg of dié van die Romanof-bene nie, wat bevestig het dat Anderson nie aan die Romanofs verwant was nie. Die monster het egter ooreengestem met DNS wat voorsien is deur Karl Maucher, ’n kleinseun van Franziska Schanzkowska se suster, Gertrude (Schanzkowska) Ellerik, wat aangedui het dat Karl Maucher en Anna Anderson moederlik verwant was en dat Anderson Schanzkowska was.[121]

Net so is verskeie stringe van Anderson se hare, wat in ’n koevert in ’n boek gevind is wat aan Anderson se man, Jack Manahan, behoort het, getoets; mtDNS uit die hare het ooreengestem met Anderson se hospitaalmonster en dié van Schanzkowska se familielid Karl Maucher, maar nie met die Romanof-oorskot of lewende familielede van die Romanofs nie.[122]

Remove ads

Beoordeling

Hoewel kommuniste die hele Romanoffamilie in Julie 1918 vermoor het, insluitend die 17-jarige groothertogin Anastasia, het kommunistiese disinformasie jare daarna gerugte gevoed dat lede van die tsaar se familie oorleef het.[123] Die teenstrydige gerugte oor die lot van die familie het bedrieërs in staat gestel om vals aansprake te maak dat hulle ’n oorlewende Romanof is.[124]

Die meeste van die bedrieërs se aansprake is verwerp, maar Anna Anderson se aanspraak het bly voortbestaan.[125] Talle boeke en artikels is voor die bekendmaking van die DNS-getuienis geskryf wat veronderstel dat sy Anastasie was. Onlangse biografieë deur John Klier, Robert Massie en Greg King wat haar as ’n bedrieër beskryf, is geskryf nadat die DNS-toetse bewys het sy was nie Anastasia nie.

Beoordelings verskil oor of Anderson ’n doelbewuste bedrieër was, getraumatiseer tot die aanvaarding van ’n nuwe identiteit of iemand wat deur haar ondersteuners vir hulle eie doelwitte gebruik is. Pierre Gilliard het haar ’n “slinkse psigopaat” genoem.[126]

Die gelykstelling van Anderson met lede van die keiserlike familie het begin by Clara Peuthert in die Dalldorf-inrigting, nie by Anderson self nie. Anderson het daarna blykbaar daarmee saamgegaan.[127] Die skrywer Michael Thornton sê: “Iewers langs die pad het sy Schanzkowska verloor en verwerp. Sy het daardie persoon totaal verloor en volkome aanvaar dat sy hierdie nuwe persoon was. Ek dink dit het per ongeluk gebeur en sy is meegesleur op ’n golf van euforie.”[128] Lord Louis Mountbatten, ’n neef van die Romanof-kinders, het gedink haar ondersteuners “raak eenvoudig ryk uit die tantième van verdere boeke, tydskrifartikels, toneelstukke, ensovoorts”.[129]

Remove ads

Verwysings

Bronne

Skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads