August Beutler

leier van ‘n VOC-ekspedisie na die Oos-Kaap From Wikipedia, the free encyclopedia

Remove ads

August Beutler was in 1752 die leier van ‘n VOC-ekspedisie na die Oos-Kaap.

Vroeë jare

August Friedrich Beutler is op 11 of 12 April 1720 in die Middeleeuse dorp Dinkelsbühl (tussen Neurenberg en Stuttgart) gebore en waarskynlik ook daar oorlede kort nadat hy vermoedelik in 1755 na Europa teruggekeer het. Hy was die jongste kind van ‘n Lutherse dominee en beide sy ouers was afomstig uit die hoë stand. Blykbaar studeer Beutler in 1733 aan die Universiteit van Tübingen, sluit daarna by die Nederlandse vloot aan, arriveer in 1749 met die rang van vaandrig aan die Kaap en trou op 4 Januarie 1750 met Anna van den Heever.

Remove ads

Opdrag en geselskap

In 1752 stel goew. Ryk Tulbagh vir Beutler aan as hoof van ‘n geselskap om die ekonomiese moontlikhede van die binneland noordooswaarts te verken en om die inwoners beter te leer ken. Hierdie landstreek was toe net so onbekend as die oppervlakte van die maan vir die 21ste eeuse mens. Die geselskap het bestaan uit 21 ondersoekers, 25 Khoikhoi-personeellede om die 11 ossewaens en osse te hanteer, 37 soldate en groot hoeveelhede proviand, toerusting en selfs ‘n bootjie. Afgesien van Beutler as leier was die bekendste lede die dagboekskrywer C.A. Haupt, die landmeter en kartograaf C.D. Wentzel, onderstuurman Peter Clement, die geneesheer Jan H. van Ellewee en die plantkundige Hendrik Beenke. Verder was daar ook ‘n smid en wamaker in die groep. Dit was die grootste geselskap wat die VOC nog hier op ‘n ondersoektog uitgestuur het sedert Simon van der Stel se reis na die Koperberge.

Remove ads

Reis

Op 29 Februarie 1752 vertrek die groep manne uit Kaapstad op ‘n 8 maande lange inspeksietog. Via die Swartberge by Caledon gaan hulle na Swellendam en op 31 Maart is hulle by die Gouritsrivier. Hier staan hulle ‘n maand oor en tref ‘n verhongerde Fransman, ‘n drenkeling van ‘n skeepsramp, aan. Van Mosselbaai gaan hulle verder via die bolope van die Groot-Brakrivier oor die Attakwaskloofpas in die Outeniquaberge, deur die Langkloof, langs die Keurboomsrivier na St. Francisbaai. Op 4 Mei is hulle by die Kabeljousrivier. Daarna oor die Gamtoosrivier, Van Stadensrivier en die Swartkopsrivier. By die mond van die Kabeljousrivier en die Baakensrivier plant hulle ‘n VOC-baken om te voorkom dat die Franse daar ‘n nedersetting gaan stig. Op 16 Mei is hulle by die Sondagsrivier, op 20 Mei by die Boesmansrivier en op 2 Junie gaan hulle oor die Visrivier. Op 5 Junie staan die groep op die oewer van die Keiskammarivier. Daarna oor die Buffelsrivier by die latere Kingwilliamstown. Hulle gaan oor die Groot-Keirivier en is op 8 Julie in Tembuland. Hier draai hulle reg wes na die bolope van die Visrivier.

Terugreis

Ryk Tulbagh se opdrag was dat die groep via die Koperberge in Namakwaland na Kaapstad moes terugkeer. Die manne was egter te uitgeput om nog so ver deur die droë Karoo met sy hoë berge, min water en kosskaarste te reis. Daarby het die inboorlinge glo al hoe onvriendeliker geword. Op 10 Julie naby die huidige Butterworth by die Qorarivier besluit die manne om om te draai, want net verby die moderne Cradock was die proviand heeltemal gedaan. Daarna volg hulle ongeveer die trajek van hul heenreis en is op 6 November weer in Kaapstad terug.

Remove ads

Reisverslag

Die binneland van die kolonie het al meer bekend geraak deur die reise van vroeë pioniers, avonturiers, handelaars, jagters en sendelinge. Inligting is deur hulle opgebou oor die bewoners, topografie, klimaat, flora en fauna. Die verslag van hierdie reis het aan goew. Tulbagh getoon dat die grond in die Oos-Kaap waarskynlik vrugbaarder is as in die Karoo en dus geskik is om gekoloniseer te word. Beutler se groep het die Xhosa-hoof Gcaleka besoek en inligitng oor die leefwyse van die Xhosa-stamme versamel. Ook besef hulle dat die Keiskammarivier in praktyk die skeiding tussen die Khoikhoi en die Xhosa se grondgebied vorm. Maar hulle word deeglik bewus van die verbrokkeling van die stamverband van die Khoikhoi. Dagboekskrywer Haupt se vermelding van Boesmantekeninge langs die Groot-Visrivier is die eerste boekstawing van die aanwesighied van sulke kunswerke in Suid-Afrika. Karotgraaf Wentzel se kaart van die reis is vandag nog van historiese belang.

Remove ads

Publikasie

Die joernaal bygehou deur dagboekskrywer Haupt is in die volgende twee boeke gepubliseer:

  • G. McC. Theal se Belangrijke historische documenten, deel 2. In Kaapstad uitgegee in 1896.
  • E.C. Godée Molsbergen (redakteur) se Reizen in Zuid-Afrika, deel 3. Uitgegee in 1922 deur die Linschoten Vereniging in Den Haag.

Persone

  • Everardus Cornelis Godée Molsbergen (*Utrecht, Nederland, 18 September 1875 - †Den Haag, 8 Maart 1940), historikus
  • Carl Albrecht Haupt (*Berlyn?, 1724? - †18 Januarie 1804), VOC-amptenaar, dagboekskrywer
  • George McCall Theal (*St. John, Nieu-Brunswyk, Kanada, 11 April 1837 - †Wynberg, 17 April 1919), geskiedkundige
  • Carl David Wentzel (*Dresden, ongeveer 1724 - †Kaapstad, 11 Mei 1776), genie-offisier, kartograaf, landmeter
Remove ads

Lees ook

Bibliografie

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads