Edward Henry Carson, Baron Carson (* 9 Februarie1854, † 22 Oktober1935), vanaf 1900 tot 1921 bekend as Sir Edward Carson, was 'n Ierse politikus, advokaat en regter. As leier van die Ierse Unioniste-alliansie (Irish Unionist Alliance) en Ulster-Unionisteparty (Ulster Unionist Party), poste wat hy tussen 1910 en 1921 beklee het, het Carson Ierse selfregering (Home Rule) verwerp en hom vir die handhawing van die politieke unie tussen Ierland en Groot-Brittanje beywer.
Standbeeld van Edward Carson voor die Noord-Ierse parlementsgebou in Belfast
Carson het verskeie poste in die Britse kabinet beklee en as Lord of Appeal in Ordinary (Law Lord, "Lordregter") gedien. Die Britse historikus John Brown het opgemerk dat "sy standbeeld, wat meer as lewensgrootte is en gedurende sy leeftyd [in 1933] voor die Noord-Ierse parlementsgebou op Stormont opgerig is, 'n opvatting versinnebeeld wat deur vele gedeel word - dat Noord-Ierland sy skepping is."[1]
Carson was een van min nie-koninklike Britse persoonlikhede wat 'n staatsbegrafnis ontvang het. Carson het sy laaste rusplek in die Kerk van Ierland se Sint Anna-katedraal (St Anne's Cathedral) te Belfast gevind, net soos sy tweede vrou Ruby Frewen wat ná haar verassing in die katedraal se columbarium ter ruste gelê is.