Game of Thrones
Amerikaanse fantasie drama televisiereeks From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Game of Thrones is 'n Amerikaanse fantasie-dramareeks wat deur David Benioff en D. B. Weiss vir die kabeltelevisiekanaal HBO in die rolprentateljee Titanic Studios in Belfast, Noord-Ierland, vervaardig word. Buiteopnames is in Noord-Ierland en ander plekke in die Verenigde Koninkryk asook in Kroasië, Ysland, Marokko, Spanje, Malta, Kanada en die Verenigde State gemaak.

Die TV-reeks, wat deur kritici gunstig ontvang is en ook kommersiële sukses behaal het, is gebaseer op die Amerikaanse skrywer George R. R. Martin se epiese fantasiereeks A Song of Ice and Fire. Martin is self betrokke by die verfilming van sy romans. Die eerste aflewering is op 17 April 2011 uitgesaai. Die sesde seisoen het op 26 Junie 2016 geëindig toe die 60ste aflewering uitgesaai is. 'n Sewende seisoen met sewe aflewerings is in 2017 uitgesaai en het op 27 Augustus geëindig. Die agste en finale seisoen is vanaf April 2019 uitgesaai. Verfilming in Noord-Ierland vir die agste seisoen het op 10 Oktober 2017 begin.[2]
Die reeks speel op Westeros en Essos af, twee vastelande van 'n fiktiewe wêreld wat aan die Europese Middeleeue ontleen is - en hier veral die 15de eeuse Engelse Oorlog van die rose tussen die adelshuise York en Lancaster. Vir die hoofkontinent Westeros het dan ook die Britse Eilande as voorbeeld gedien.[3]
Westeros se geskiedenis, soos beskryf deur George R.R. Martin, is geïnspireer deur die historiese patroon van invalle en die vestiging van nuwe setlaars waardeur die Britse Eilande se samelewing oor die eeue heen gevorm is - vanaf die Keltiese migrasietyd tot die aankoms van die Angelsaksers, die Wiking-invalle en die vestiging van Normandiërs.
Die sewe koninkryke van Westeros word deur 'n reusagtige muur afgeskerm van 'n gebied in die noorde wat deur ewige ys bedek word. Die fiktiewe wêreld se klimaattoestande is wisselvallig - so is die lengte van die verskillende seisoene onvoorspelbaar, en kan vir jare duur.

Baie van die buite-opnames het in Noord-Ierland ontstaan, soos in hierdie gebied naby Ballintoy. Ballintoy-hawe en Larrybane is twee van baie plekke in Noord-Ierland wat danksy die televisiereeks bekendheid verwerf het en tans deel uitmaak van Game of Thrones-geesdriftiges se Noord-Ierse reisroetes. Die landmassa op die gesigseinder is Skotland



Die epiese verhaal van Game of Thrones begin teen die einde van 'n lang somer waarby drie narratiewe lyne parallel loop. Spanninge begin opbou tussen die Ryk se magtige adelshuise en lei uiteindelik tot 'n troonstryd.
Terwyl die winter nader, word Westeros in sy uiterste noorde, waar 'n sogenaamde Nagwag die koninkryke teen indringers beskerm, deur 'n vreemde ras bedreig. In Essos strewe Daenerys Targaryen, lid van Westeros se koninklike familie wat jare gelede die troon kwytgeraak het, daarna om haar mag te herwin.
Remove ads
Verwysings
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads