Geometriese skilpad
skilpad spesie From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Die geometriese skilpad of suurpootjie (Psammobates geometricus) is na bewering op een spesie na die skaarste skilpad ter wêreld en die enigste Suid-Afrikaanse landskilpad wat internasionaal erken word as 'n bedreigde skilpad. Dit behoort in elk geval tot die 25 mees bedreigde skilpadspesies in die wêreld en is endemies aan die Wes-Kaap van Suid-Afrika.

Remove ads
Identifikasie
Die klein skilpadjie is ‘n lid van die orde Testudines en die familie Testudinidae. Sy dop is steragtig in voorkoms en is selde meer as 10 tot 12 cm lank, maar doppe van 16½ cm is al aangetref. Op die donkerbruin tot swart dop, sy “skild”, is allerlei strepe en driehoeke. Die onderkant van die skilpadjie is geel. Die dop is besonder bolvormig en dit loop vergeleke met die meeste ander skilpaaie se doppe meer skuins na onder. Hierdie skilpad word dikwels verwar met die knoppiesdopskilpad.
Remove ads
Verspreiding en voedsel
Die skilpadjie kom uitsluitlik in 'n baie klein deel van die Suidwes-Kaap voor. Waarskynlik is die verspreidingsgebied van Kaapstad noordwaarts tot Eendekuil en Piketberg, wes van die berge, suid tot naby Gordonsbaai en dalk oos tot in die Breederiviervallei. Twee ander geïsoleerde kolonies is bekend: in die Ceresvallei en in die Tulbagh-Worcester-omgewing. Al die gebiede is dus in die winterreënvalstreek en hierdie reptiele leef in fynbos en renosterveld. Hulle is uitsluitend plantvretend en lewe van gras en blare van verskeie soorte Karoobossies en vetplante, veral Mesembryanthemum.
Remove ads
Gevare
Daar is goeie redes vir die drastiese afname in bevolkingsgetalle. Die skilpadjies verkies die renosterveld van die Kaapse laaglande, die Worcester- en Ceresvallei as habitat. Helaas is dit ook goeie landbougrond en meer as 90% van hul natuurlike tuiste is deur landbouaktiwiteite, veldbrande en indringerplante vernietig. Boonop was daar in die 1960's 'n groot vraag na skilpaaie as troeteldiere in die wêreld. Tussen 1965 en 1978 is uit Suid-Afrika 3 miljoen na Brittanje uitgevoer. Waarskynlik het suurpootjies 'n groot deel daarvan uitgemaak en daarby het 80% van die skilpaaie nie die reis oorleef nie.
Voortplanting
Die skilpadjies teel baie stadig aan. Paring vind eers op ongeveer 8-jarige ouderdom plaas en 2 tot 4 eiers word op 'n keer in die lente gelê. Na 'n broeityd van 4 tot 6 maande verskyn die kleintjies in die herfs.
Naamgewing
Die naam geometriese skilpad kom van die opvallende meetkundige patrone op sy dop. Waar die volksnaam suurpootjie vandaan kom, is onseker: nors of suur skilpadjie of seerpootjie, wat later suurpootjie geword het of 'n skilpad wat die suurveld verkies om in te leef.
Bewaring in reservate
Voorheen is gevrees dat die suurpootjie uitgesterf het totdat dit laat in die 1960's herontdek is. Om sy voortbestaan te verseker is die eerste skilpadreservaat in Afrika in 1972 op die plaas Eenzaamheid by die Paarl geproklameer met die uitsluitlike doel die bewaring van die suurpootjie. Nog 'n tuiste is in die Hottentots-Hollandkom gestig met die naam Harmony Flats-natuurreservaat. Die bewaringspoging het egter misluk.
Remove ads
Bronnelys
- Jordaan, Aletta: Raar maar Daar. In: Conserva. Departement van Omgewingsake. Deel 5, nr. 1, Januarie 1990. ISSN 0258-3313
Eksterne skakels
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Geometriese skilpad.
- https://www.iucnredlist.org/species/18398/111553007
- https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/53639
- https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/8078/1431602a3d3347eabfe0d055d52baada.pdf
- https://www.itis.gov/servlet/SingleRpt/SingleRpt#null
- http://www.reptilechannel.com/turtles-and-tortoises/wild-turtles-and-tortoises/south-africa-tortoises.aspx
Remove ads
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads