Lucy (ruimtetuig)
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Lucy is 'n ruimteverkenner van Nasa op 'n sending van 12 jaar na agt verskillende asteroïede. Dit sal twee liggame in die asteroïedgordel en ses trojane van Jupiter besoek. Laasgenoemde is asteroïede wat Jupiter se wentelbaan om die Son deel; hulle beweeg óf voor Jupiter uit óf agter hom aan.[4][5] Die tuig sal verbyvlugte van al die asteroïede onderneem.[6] Lucy is deel van 'n sending van VS$981 miljoen[7] en is op 16 Oktober 2021 lanseer.
Die sending is genoem na die Australopithecus-fossiel Lucy, want die bestudering van die trojane kan lig werp op die "fossiele van planeetvorming": materiaal wat in die vroeë jare van die Sonnestelsel saamgekoek het om planete en ander liggame te vorm.[8] Die hominied Lucy is genoem na die Beatles se liedjie van 1967 "Lucy in the Sky with Diamonds".[9]
Remove ads
Oorsig
Lucy is op 16 Oktober 2021 van Kaap Canaveral lanseer[2] met 'n Atlas V-lanseringstelsel. Nadat dit in 2023 verby die asteroïed 152830 Dinkinesj gevlieg het,[10] het dit in 2025 verby die asteroïed 52246 Donaldjohanson in die binneste asteroïedgordel gevlieg wat na die ontdekker van die Lucy-fossiel genoem is.[11]
In 2027 sal dit by die L4-trojaanwolk asteroïede Griekse Kamp sowat 60° voor Jupiter aankom. Dit sal hier verby vier asteroïede (en hulle satelliete) vlieg: 3548 Eurubates (en sy satelliet), 15094 Polumele, 11351 Leukos en 21900 Orus.[6] Hierna sal Lucy na die L5-trojaanwolk Trojaanse Kamp vlieg wat sowat 60° agter Jupiter geleë is. Dit sal in 2033 verby die dubbelvoorwerp 617 Patroks en sy satelliet, Menoetius, vlieg. Die sending kan hierna eindig, maar omdat Lucy dan in 'n stabiele wentelbaan van ses jaar tussen die L4- en L5-wolk sal wees, is dit moontlik om die sending te verleng.
Harold F. Levison van die Southwest Research Institute in Boulder, Colorado, is die hoofondersoeker en Simone Marchi van die instituut die assistenthoofondersoeker. Nasa se Goddard-ruimtevlugsentrum voer die sending uit.
Die verkenning van Jupiter se trojane is een van die doelwitte met die grootste prioriteit. Volgens aardgebaseerde waarnemings is hulle "donker met ... oppervlakke wat min sonlig weerkaats".[12] Jupiter is 5,2 AE van die Son af, of effens meer as vyf keer so ver as die Aarde.[13] Die Jupitertrojane is net so ver, maar kan effens nader of verder van die Son af wees, na gelang van waar in hulle wentelbane hulle is. Daar kan soveel trojane as asteroïede in die hoofgordel wees.[14]
Goue plaat

Aan boord van die ruimtetuig is 'n goue plaat wat die lanseringsdatum bevat, asook die posisie van die planete en van die Aarde se kontinente op die lanseringsdatum, sy nominale baan en 20 toesprake, gedigte en liedere van mense soos Martin Luther King jr., Carl Sagan en die Beatles. Omdat die ruimtetuig nie die Sonnestelsel sal verlaat of met opset teen 'n planeet sal bots nie, is daar 'n kans dat mense van toekomstige generasies dit in die hande sal kan kry.[15]
Remove ads
Teikens


Die spesifike voorwerpe wat vir waarnemings op verbyvlugte geteiken is, sluit in:[11][16][17][18]
Remove ads
Verwysings
Skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads