Mika
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Mika (van die Latynse micare - 'om te flits of te glinster' in 'n verwysing na die materiaal se voorkoms) is die term vir 'n groot groep plaatsilikate. Hulle staan ook bekend as die "mikafamilie". Hulle het 'n gelaagde struktuur en lyk dikwels soos glinsterende plaatjies. Die minerale kan verdeel word in mikas met buigsame of bros velle. [1]

Onderverdelings

Hulle kan in twee groepe verdeel word, die ware of gewone mikas en die bros mikas. Die ware mikas het monovalente tussenlaagkatione, soos natrium of kalium. Die minerale muskoviet, paragoniet en efesiet behoort tot hierdie groep. Die bros mikas het divalente tussenlaagkatione soos magnesium, kalsium of yster. Margariet, biotiet en klintoniet is minerale wat tot hierdie groep behoort.[1] Vermikuliet vorm deur verwering of hidrotermiese werking as 'n veranderingsproduk van biotiet of flogopiet. Vermikuliet word ontgin as 'n natuurlike isolasiemateriaal.[2]
Mika kan ook onderverdeel word in dioktaëdriese mika en trioktaëdriese mika; sommige mikas is gemeng.[1] Die kristalstrukture vertoon dikwels politipes.
Remove ads
Mynbou
Muskoviet (kaliummika), flogopiet (magnesiummika) en vermikuliet (’n gehidrateerde magnesium-ystermika) is kommersieel die belangrikste mikas.
Plaatmuskoviet en flogopiet het hoë termiese weerstand en lae elektriese geleidingsvermoë. Dit het tradisioneel toepassings in verwarmings- en elektriese toestelle gevind. Droë en natgemaalde mika word in groter volumes geproduseer vir gipsbord, gipsbordverbindingssement en vulstowwe in verf en plastiek. Die jaarlikse verbruik wêreldwyd is egter minder as 300 000 t.[3]
Vermikuliet word gewoonlik in afgeskilferde vorm verkoop, geproduseer deur verhitting tot ~870°C wat die ingeslote water as stoom afdryf en wat 'n 8-10-voudige uitbreiding tot gevolg het. Die liggewigproduk word gebruik as akoestiese isolasie, vulsel in liggewig muurbord, hitte-isolasie, verpakkingsmateriaal, grondversorger en plantgroeimedium. Die grootste produsente is Suid-Afrika en die Verenigde State, wat verantwoordelik is vir meer as die helfte van die jaarlikse wêreldproduksie van 500 000 t.[3] Dit word in verskeie dele van die wêreld aangetref, maar die grootste myn wat vandag (in 2025) in gebruik is, is in Phalaborwa in die noordoostelike hoek van Suid-Afrika geleë.[4]
Vermikuliet is skoon om te hanteer, nie-skurend, weerkaatsend, verrotbestand, reukloos en onoplosbaar in water en organiese oplosmiddels.[4] Vermikuliet word in duisende toepassings gebruik, van potgrond, liggewig beton, brandbeskermingsboumateriaal, as 'n VN-goedgekeurde verpakkingsmateriaal vir die veilige versending van gevaarlike vloeistowwe en selfs tekstuurmiddels in verf en bedekkings.[4] Die beste afskilferingseienskappe is nie vir suiwer vermikuliet waargeneem nie, maar vir tussengroeisels van vermikuliet en ander gelaagde silikate (bv. hidrobiotiet).[2]
Remove ads
Verwysings
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads
