Plácido Domingo
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
José Plácido Domingo Embil (Spaanse uitspraak: xoˈse ˈplaθiðo ðoˈmiŋɡo emˈbil, gebore op 21 Januarie 1941)[1] is 'n Spaanse operasanger, dirigent en kunsteadministrateur. Hy het reeds meer as 'n honderd volledige operas opgeneem en is bekend vir sy veelsydigheid en vindingrykheid. Hy tree gereeld in van die mees glansryke operahuise in die wêreld op, en sing in Italiaans, Frans, Duits, Spaans en Russies. Alhoewel hy grotendeels lirico-spinto tenoorrolle gesing het, en veral gewild is vir sy rolle as Cavaradossi, Hoffmann, Don José en Canio in Pagliacci, het hy spoedig aanbeweeg na meer dramatiese rolle, en sodoende die mees aangeprysde Otello van sy generasie geword.[2][3][4] In die vroeë 2010's het hy van tenoorrepertorium oorgeskakel na rolle vir bariton, mees opvallend diè van Simon Boccanegra. Met ingang 2020 het Domingo reeds 151 verskillende rolle vertolk.[5][6]
Domingo het ook aansienlike sukses behaal in ander genres, veral in die genres van Latyns-Amerikaanse musiek en populêre musiek. Bykomend tot sy veertien Grammy bekronings en Latin Grammy Awards, het verskeie van sy albums silwer, goud, platinum en multi-platinum status bereik. Sy eerste pop album, Perhaps Love (1981), het tot gevolg gehad dat sy bekendheid ver buite die operawêreld versprei het. Daar is byna vier miljoen kopieë van die titelliedjie verkoop, wat as duet opgevoer is saam met die country- en folk sanger John Denver.[7] Dit het gelei tot verskeie televisieverskynings. Hy het ook verskyn in verskeie operafilms, vernaam onder regie van Franco Zeffirelli. In 1990 begin hy saam met sy mede-tenore Luciano Pavarotti en José Carreras sing as deel van The Three Tenors. Die eerste Three Tenors album was 'n topverkoper en hou die rekord vir die meeste verkope vir 'n klassieke-musiek album.[8][9]
Hy dirigeer toenemend operas en konserte en was vanaf 2017 tot 2019 algemene musiekdirekteur van die Los Angeles Opera in Kalifornië.[10] Hy was aanvanklik die artistieke direkteur, en later, vanaf 1996 tot 2011, die algemene direkteur van die Washington National Opera. Hy was betrokke by verskeie humanitêre werke, sowel as by die verlening van hulp aan jong operasangers, en is die stigter en organiseerder van die internasionale sangkompetisie, Operalia.
Na beskuldigings van seksuele teistering wat so ver terug dateer as die laat-1980's, bedank Domingo in Oktober 2019 as algemene bestuurder van die Los Angeles Opera.
Remove ads
Verwysings
Bronnelys
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads