Remonstrante

From Wikipedia, the free encyclopedia

Remove ads

Die Remonstrante (of die Broederskap van Remonstrante) is 'n Protestantse beweging wat in die vroeë 17de eeu van die Nederduits Gereformeerde Kerk weggeskeur het. Die vroeë Remonstrante het Jacobus Arminius gesteun en ná sy dood voortgegaan met die handhawing van sy oorspronklike siening teen die voorstanders van Calvinisme. Die Remonstrante is veroordeel deur die Sinode van Dordrecht (1618-1619) en het gevolglik 'n klein minderheid in Nederland gebly. In die middel van die 19de eeu is die Broederskap van die Remonstrante beïnvloed deur die liberale Nederlandse teologiese beweging.

Remove ads

Geskiedenis

Thumb
Allegorie van die teologiese geskil tussen die Arminiane en hul opponente, deur Abraham van der Eyk, 1721. Remonstrante kan aan die linkerkant gesien word, met hul Nederduits Gereformeerde teenstanders aan die regterkant. Die weegskaal toon dat die Calvinistiese saak swaarder weeg as die Arminiane s'n. Die swaard simboliseer die ondersteuning wat die Nederduits Gereformeerde Kerk van die Republiek ontvang het.

Stigting

By die formulering van Arminianisme was Jacobus Arminius dit nie eens met Calvyn nie, veral betreffende die uitverkiesingsleer.

In 1610 het die volgelinge van Arminius Vyf Artikels van Remonstransie aan die State van Holland en Friesland voorgelê wat hul meningsverskille met die Calvinisme soos aangeneem deur die Nederduits Gereformormeerde Kerk geformuleer het. [1] Ondersteuners van Arminius word "Remonstrante" of "Arminiane" genoem.

Hulle teëstanders, geïnspireer deur Franciscus Gomarus, het bekend geword as Gomariste of Teen-Remonstrante. [1] Alhoewel die State-Generaal van Nederland 'n edik uitgereik het wat beide partye verdra en verdere geskille verbied het, het die konflik voortgeduur [1] en is dit aan die politieke konflikte in die Nederlandse Republiek gekoppel. Die Remonstrante is aangeval deur persoonlike vyande en deur die politieke maneuvers van Maurice van Nassau. [1] Hul voorste bondgenoot, Johan van Oldenbarnevelt, is tereggestel, en ander leiers is gevange geneem.

In 1618–19 het die Sinode van Dordrecht, nadat hulle die dertien Arminiaanse predikante onder leiding van Simon Episcopius uitgesluit het, die oorwinning van die Calvinistiese skool bevestig. [1] Dit het drie-en-negentig kanonieke reëls opgestel en die gesag van die Belgiese Belydenis en die Heidelbergse Kategismus bevestig. [1] Die Sinode se bevinding is afgedwing deur die afsetting en in sommige gevalle verbanning van Remonstrant-priesters. [1] As gevolg van die gebrek aan predikers het daar in Warmond 'n beweging ten gunste van lekepredikers ontstaan, waarvan die aanhangers die Genootskap van Kollegiante gestig het. [2] 'n Ballinggemeenskap van Remonstrante is in 1619 in Antwerpen op die been gebring. In 1621 is hulle toegelaat om hulle in Sleeswyk te vestig, waar hulle Friedrichstadt gebou het. [1]

Institusionalisering

Thumb
Die Remonstrantekerk van Friedrichstadt, Duitsland

Die leer van die Remonstrante is in 1621 beliggaam in 'n Remonstrante Belydenis [3] wat geskryf is deur Episcopius, hul vernaamste teoloog. Hierdie belydenis dien sedert die terugkeer van die Remonstrantekerk na Nederland in 1626 as sy basis. Dit bevestig die mening wat die Remonstrante reeds in 1618 uitgespreek het. [4]

Jan Uytenbogaert het die Remonstrante van 'n kategese voorsien en hul kerkorde gereguleer. [1] Hulle seminarie in Amsterdam het oor uitgelese leerlinge beskik, insluitende Stephan Curcellaeus, Philipp van Limborch, Johann Jakob Wetstein en Jean Leclerc. Hulle teologieskool, wat aldra meer liberaal en selfs meer rasioneel geword het, het die amptelike Nederduits Gereformeerde staatskerk en ander Christelike denominasies met oortuiging bespreek. [1]

Na die dood van Maurice van Oranje in 1625 het sommige ballinge teruggekeer. Die regering het oortuig geraak dat hulle geen gevaar vir die staat inhou nie, en in 1630 is hulle formeel toegelaat om weer in alle dele van die Republiek te woon. [1] Hulle kon egter tot die oprigting van die Bataafse Republiek in 1795 nie amptelik kerke bou nie. Vir eers het hulle hul dienste in sogenaamde "Schuilkerke" en huiskerke gehou. [5]

Liberalisme

Thumb
'n Remonstrantekerk in Groningen, Nederland

In die middel van die 19de eeu is die Broederskap van Remonstrante deur liberalisme beïnvloed, [6] [7] wat in Holland beliggaam is deur Petrus Hofstede de Groot (1802-1886). Sy teologie het 'n wye aanhang in Europa gehad, wat kenmerkend is van die romantiese fase van Christelike humanisme; in Nederland word hierdie gedagtegang sedert 1830 deur die "teoloë van Groningen" beliggaam.

De Groot het die doel van hierdie beweging, waarvan hy die leier was, opgesom deur te skryf dat "die belangrikste ding in Christendom die openbaring en die opvoeding soos gegee deur God in Jesus Christus is, ten einde ons toenemend in die beeld van ons Skepper te maak". Die "Groningers" het die leerstelling van die Drie-eenheid, uitverkiesing en die versoenende geregtigheid van God verwerp. Hulle het die dubbele goddelike en menslike aard en die vermoë van die mens om God se wil met sy hulp te verwesenlik, erken.

Die vroeë Remonstrante se teologiese nalatenskap

Die meeste van die vroeë remonstrante het klassieke Arminianisme gevolg. [8] Hulle is egter nie die enigste Protestante wat as Arminiane beskou kan word of wat Arminiane genoem word nie. Arminianisme is 'n minderheid in die Gereformeerde belydenis, maar dit behoort eintlik tot die groter stroom van sinergisme. Dit het as Arminianisme die Kerk van Engeland binnegedring. As 'n breër sinergisme kom dit voor in Metodisme, die Algemene Baptiste, die Adventiste Kerk, die Charismatiese beweging, en 'n aantal ander Protestantse denominasies.

Remove ads

Verwysings

Bronne

Verdere leeswerk

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads