Stille Oseaan-nasiesbeker

internasionale rugbykompetisie wat gehou word tussen Fidji, Samoa, Tonga, Kanada, Japan en die Verenigde State From Wikipedia, the free encyclopedia

Stille Oseaan-nasiesbeker
Remove ads

Die Stille Oseaan-nasiesbeker (Engels: Pacific Nations Cup), amptelik die Wêreldrugby Stille Oseaan-nasiesbeker (World Rugby Pacific Nations Cup), is ’n internasionale rugbykompetisie wat beslis word tussen Fidji, Japan, Kanada, Samoa, Tonga en die Verenigde State. Dit is die eerste keer in 2006 gehou en is bedoel om vlak-twee-rugbyspanne te versterk deur mededingende toetswedstryde in ’n toernooiformaat aan te bied.

Kitsfeite Sportsoort, Gestig ...

Voormalige spanne sluit in die Junior All Blacks (ook bekend as Nieu-Seeland A; in 2006, 2007, 2009), Australië A (in 2007, 2008, 2022), Georgië (in 2018) en die Māori All Blacks (in 2008). Die eerste toernooi is die enigste een wat die titel van IRR Stille Oseaan Vyfnasies gedra het; van 2007 af was die kompetisie bekend as die IRR Stille Oseaan-nasiesbeker en daarna die Wêreldrugby Stille Oseaan-nasiesbeker.

Fidji is tans die houer van die titel, nadat hulle Japan in die 2024-eindstryd met 41–17 geklop het. Samoa het die bronsmedaljewedstryd beklink met ’n oorwinning van 18–13 oor die Verenigde State.[1]

Remove ads

Formaat

Soortgelyk aan die 2019-toernooi speel die spanne gedurende die 2024-groeprondte van die toernooi een wedstryd teen elk van die ander spanne in die groep, maar anders as 2019 volg daar in die 2024-toernooi ’n uitklopfase op die groepfase (waarvan Japan die gasheer was) om die kampioen te bepaal.[2][3]

’n Oorwinning tel vier punte en ’n gelykopuitslag twee punte. Daar word ook bonuspunte toegeken, met een bonuspunt vir vier of meer drieë in ’n wedstryd en een bonuspunt waar die verloorspan met sewe punte of minder verloor.

Die toernooi vind gewoonlik elke jaar plaas in die internasionale toetsvenster vir Junie met die laaste rondtes in Augustus of September. Die 2024-toernooi het op 23 September 2024 afgeskop en geëindig op 21 September 2024 met die eindstryd en bronseindstryd op Japan se Hanazono Rugbystadion in Higashiōsaka.

Remove ads

Geskiedenis

Thumb
Japan teen Tonga in 2006
Thumb
Japan teen Australië A op die Level-5 stadion tydens die 2008 IRR Stille Oseaan-nasiesbeker
Thumb
’n 2012 Stille Oseaan-nasiesbeker-wedstryd in Tokio, waarin Samoa vir Japan met ’n telling van 27–26 geklop het

Die Stille Oseaan-nasiesbeker is oorspronklik befonds as ’n Wêreldrugbytoernooi, wat deel was van ’n driejaarse globale strategiese beleggingsprogram ter waarde van $VSA50 miljoen wat in Augustus 2005 van stapel gestuur is. Die kompetisie was daarop gemik om die Stille Oseaan-spanne uit die tweede vlak van rugby te ontwikkel: Fidji, Japan, Samoa en Tonga. Die Junior All Blacks, Nieu-Seeland se tweede of A-span, is ook genooi om mee te ding. Volgens Wêreldrugby se destydse hoof van rugbydienste, Mark Egan, sou “Die IRR Stille Oseaan Vyfnasies ’n toernooi wees wat meer sekerheid vir Fidji, Japan, Samoa en Tonga bied in terme van gereelde hoëvlaktoetswedstrydrugby, terwyl dit ook ’n hoë vlak van mededinging vir die Junior All Blacks sou bied.”[4]

Dit is slegs in die eerste jaar die Stille Oseaan Vyfnasies genoem en het nie Australië ingesluit nie. Australië is genooi om aan die eerste 2006-toernooi deel te neem, maar hulle het besluit om nie ’n span te stuur nie en gesê dat hulle op hul plaaslike kompetisie wou fokus. Die eerste toernooi het op 3 Junie 2006 afgeskop en is in ’n groepformaat gespeel, met sommige wedstryde wat in Australië gehou is. Die Junior All Blacks het al hul wedstryde, en daarmee die 2006-toernooi, gewen. Die eerste toernooi was ’n sukses in die opsig dat dit ’n platform vir rugbylande in die Stille Oseaan, insluitende Japan, gebied het om waardevolle blootstelling te verkry.

Australië se A-span het vir die 2007-seisoen by die uitgebreide kompetisie aangesluit. Die insluiting van Australië A het beteken dat die vlak twee-spanne ’n selfs groter aantal wedstryde sou hê in aanloop tot die Rugbywêreldbeker 2007. Vir Australië was dit ’n nuttige geleentheid om aan potensiële spelers vir die Wallabiesspan te slyp in aanloop tot die Rugbywêreldbekertoernooi. Ná die 2008-toernooi het die Australiese Rugbyunie (ARU) egter aangekondig dat Australië A nie in 2009 gaan speel nie weens ekonomiese oorwegings.[5] Sedertdien het Australië nie weer aan die toernooi deelgeneem nie.

In 2008 het die Nieu-Seelandse Māori-span (die Māori All Blacks) die Junior All Blacks in die kompetisie vervang. Die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZRU) het besluit dat die Nieu-Seelandse Māori meer wedstryde tuis moet speel en dat die Junior All Blacks nie in 2008 saamgestel sou word nie weens bekommernisse oor die “welsyn van die spelers”.[6] Die Junior All Blacks het teruggekeer vir die 2009-toernooi, maar geen Nieu-Seelandse span het sedertdien aan die toernooi deelgeneem nie.

Van 2010 tot 2012 was die Stille Oseaan-nasiesbeker ’n vierspantoernooi, wat deur Fidji, Japan, Samoa en Tonga beslis is, met Samoa wat in 2010 en 2012 geseëvier het, en Japan wat in 2011 gewen het.

In Januarie 2013 het die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) aangekondig dat beide die Verenigde State en Kanada op ’n permanente basis sou aansluit by die 2013-kompetisie. Vir die eerste keer het die heersende kampioene, Samoa, nie deelgeneem nie, aangesien hulle aan ’n kompetisie in Suid-Afrika deelgeneem het.[7]

Die Stille Oseaan-nasiesbeker is vir 2016 en 2017 afgeskaal, met slegs Fidji, Samoa en Tonga wat deelgeneem het. Die spanne van Kanada, Japan en die Verenigde State het in hul onderskeie streeksuitdunne vir die Rugbywêreldbeker 2019 gespeel. As deel van die Oseaniese kwalifisering is plekke by die Rugbywêreldbeker 2019 toegeken aan die twee topspanne van die 2016- en 2017-Nasiesbeker (algeheel), terwyl die onderste span ’n tweede kans (uitspeelrondte) ontvang het om te kwalifiseer deur ’n wedstryd teen die tweede beste rugbyspan uit die Europese Rugbykampioenskap te speel. Georgië is genooi vir die 2018-toernooi wat in Suva beslis is.[8]

Vir 2019 het Kanada, Japan en die Verenigde State na die toernooi teruggekeer, wat as ’n voorbereiding op die Rugbywêreldbeker 2019 gedien het. Japan het die toernooi ingepalm sonder om ’n enkele wedstryd te verloor.[9]

Die toernooi is nie in 2020 of 2021 gehou nie. Dit is eers in 2022 weer gespeel, met die immer teenwoordige Fidji, Samoa en Tonga, saam met Australië se A-span. Samoa het al drie hul wedstryde gewen. Vir die 2023-toernooi is Australië A deur Japan vervang. Fidji het hierdie keer die kampioenskap gewen, met Samoa wat Japan naelskraap vir die tweede plek uitgestof het.

In Oktober 2023 het Wêreldrugby aangekondig dat met ingang 2024 ses permanente spanne uit Noord-Amerika, die Stille Oseaan-gebied en Asië sal deelneem aan die Stille Oseaan-nasiesbeker: Fidji, Kanada, Japan, Samoa, Tonga en die Verenigde State.[10][11] Die kompetisie het egter begin met ’n groepfase, gevolg deur ’n uitklopfase, aangebied deur Japan, om die toernooiwenner te beslis, anders as die vorige formaat.[11] In Augustus 2024 is aangekondig dat die 2025-toernooi (eindstryde aangebied deur die Verenigde State) sal dien as die kwalifiseringstoernooi vir die nuut-uitgebreide Rugbywêreldbeker 2027,[12] met die samesmelting van die Noord-Amerikaanse en die Asië-Stille Oseaan-streke, wat die voormalige streekskwalifikasiemetode vervang.[12] Met hierdie aankondiging sal vyf van die ses spanne wat aan die Stille Oseaan-nasiesbeker deelneem regstreeks kwalifiseer vir die Rugbywêreldbeker 2027 aangesien Fidji en Japan gekwalifiseer het tydens die groepfase van die vorige 2023-toernooi.[13]

Remove ads

Spanne

2006–2023

Die spanne in die Stille Oseaan-nasiesbeker en hul finale posisies is as volg:

Meer inligting Span, Uitgenooide spanne ...

2024–tans

Die spanne in die 2024 Stille Oseaan-nasiesbeker en hul finale posisies, met die gasheer vir die uitkloprondtes in rooi, is as volg:

Meer inligting Span ...

Notas:

* Die 2014-toernooi is verdeel in twee “konferensies” of groepe sonder interkonferensie wedstryde of ’n uitkloprondte. Samoa en Japan het hul respektiewelike groepstitels gewen.[14][15]

Kommersiële borgskappe

Op 20 Junie 2008 het die Internasionale Rugbyraad aangekondig dat die regionale finansiële instelling, ANZ, ingestem het om aanbiedende borg van die toernooi te word, sowel as die FORU Oceania Cup en die Pacific Rugby Cup.[16]

Op 16 Augustus 2024 het Wêreldrugby en Asahi Brouerye aangekondig dat Asahi Super Dry die titelborg en amptelike bier van die toernooi sal wees.[17][18]

Resultate

Meer inligting Jaar, Gasheer vir die uitklopfases ...

Kampioene

Meer inligting Span, Kampioen ...

Opsomming

Meer inligting Span, Gespeel ...
Laaste keer hersien op: 14 Augustus 2024
'n Wen is vier punte werd. 'n Gelykopuitslag is twee punte werd. Een bonuspunt word gegee vir ’n drieëbonus of verloorbonus.
Die totaal vir punte en bonuspunte sluit uitspeelfasewedstryde in.
Remove ads

Voorste puntemakers

Die volgende tabel bevat punte en drieë wat behaal is in die Stille Oseaan-nasiesbeker.

Meer inligting Plek, Speler ...
Remove ads

Sien ook

Notas

  1. In 2014 is die Stille Oseaan-nasiesbeker beslis tussen twee “konferensies” of groepe (Asië/Stille Oseaan, Stille Oseaan-eilande).

Verwysings

Eksterne skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads