V-2-vuurpyl
wêreld se eerste kortafstand geleide ballistiese missiel From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Die V-2 was die eerste onbemande geleide ballistiese vuurpyl. Die A-4 (Aggregat 4), later hernoem na V-2, was die opvolger van die V-1. Die hoofmotor van die vuurpyl het metanol en vloeibare suurstof as brandstof gebruik. Die brandstofpompe is aangedryf met waterstofperoksied en natriumpermanganaat.
'n V-2 kon 'n maksimum hoogte van 83 tot 93 km bereik en het 'n reikafstand van tussen 321 en 362 km gehad. Die plofkop het bestaan uit Amatol Fp60/40, het ongeveer 738 kg geweeg en kon 'n hele blok huise in een slag vernietig. Net voor dit opgestyg het, het die V-2 sowat 4 040 kg geweeg. Die vuurpyl het een swaarteversnelling met opstyging bereik wat mettertyd toegeneem het tot met 8 swaarteversnellings net voor die motor afgeskakel is. Die vuurpyl het 'n valsnelheid van 3 600 km/h bereik en het sy teiken getref teen drie keer die spoed van klank.
Die vuurpyl is vir die eerste keer in operasioneel gebruik op 8 September 1944; met Parys en Londen as teikens. Die V-2-offensief het geduur vanaf September 1944 tot en met Maart 1945. In hierdie periode is meer as 3 000 vuurpyle afgevuur. Die gebied rondom Londen is deur meer as 500 V-2's getref en 'n paar honderd het verder weg neergekom. Londen en Antwerpen was eers belangrike teikens maar daar is ook vele V-2's op Ipswich en Norwich afgevuur, asook op die Geallieerde besette dele van België, Frankryk, Nederland en op die ou einde selfs op besette dele van Duitsland.
Remove ads
Aandrywing

Die hoofmotor se brandstof het bestaan uit 'n mengsel van alkohol (75% etanol en 25% water) en vloeibare suurstof. Die stelsel het ongeveer 250 kN se stukrag met opstyging en sowat 725 kN se stukrag teen sy topsnelheid gelewer. Die vuurpylmotor het vir ongeveer 70 sekondes lank gebrand en die V-2 het 'n topsnelheid van 1 341 meter per sekonde bereik.
Die V-2 se motor het 'n groot hoeveelheid brandstof in die verbrandingskamer ingepomp deur middel van twee brandstofpompe wat deur 'n enkele gasturbine aangedryf is. Die gasturbine het teen 5000 toere per minuut gedraai en het twee spesiale brandstowwe gebruik: natriumpermanganaat (20%) en waterstofperoksied (80%); waarvan daar sowat 130 liter in 'n klein tenk gestoor is. Die vloeistof is uit die tenk uitgedruk deur saamgeperste stikstof wat in 'n gasbottel gestoor is. Die versterkte raam was 'n baie belangrike deel van die motor se ontwerp. Dit kon 250 kN se stukrag weerstaan maar was steeds baie lig gewees.
Remove ads
Geleiding
Die V-2 se geleiding het bestaan uit 'n gevorderde giroskopiese stelsel wat seine na die aërodinamiese stuurvinne en lemme in die uitlaat van die verbrandingskamer gestuur het. Van die V-2 vuurpyle kon vanaf die grond gelei word deur 'n radiostraal wat op die missiel gerig was. Slegs sowat 25% van die V-2's het oor die gevorderde geleidingstelsel beskik; die meerderheid was voorsien van 'n growwe meganiese stelsel. Hierdie vuurpyle se akkuraatheid was beperk en kon teen die vuurpyl se maksimum reikafstand enige plek binne 'n radius van 7 tot 17 km van die teiken af land. Die wapen was dus slegs geskik vir gebruik teen digbevolkte gebiede. Die wapen se akkuraatheid was aanmerklik beter op korter afstande.
Remove ads
Gebruik in die Tweede Wêreldoorlog
Die eerste V-2 het op die 7de Oktober 1944 op Brasschaat geval. Byna 1 300 V-2's is op Antwerpen afgevuur en het duisende sterftes tot gevolg gehad. In Engeland is meer as 2 700 sterftes deur meer as 1 100 V-2's veroorsaak wat hoofsaaklik vanaf Den Haag afgevuur is. In totaal is daar ongeveer 10 000 vuurpyle gebou waarvan tussen 3 000 en 4 000 tydens die Tweede Wêreldoorlog afgevuur is. Die vuurpyle is grotendeels met behulp van slawe-arbeid gebou in 'n ondergrondse fabriek, Mittelbau-Dora te Nordhausen waar die V-1 en die Wasserfall ook vervaardig is.
Verwysings
Verdere leeswerk
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads