Anton Hartman
From Wikipedia, the free encyclopedia
Prof. Anton Carlisle Hartman (Geduld, Springs, Suid-Afrika, 26 Oktober 1918 – Johannesburg, Suid-Afrika, 3 Februarie 1982) was ’n dirigent, uitsaaipersoonlikheid, musiekadministrateur en die laaste nagenoeg vier jaar van sy lewe hoogleraar in musiek aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Anton Hartman | |
---|---|
Anton Hartman soek omstreeks 1970 plate uit vir 'n uitsending van die SAUK. | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Anton Carlisle Hartman |
Gebore | 26 Oktober 1918 Geduld, Springs, Suid-Afrika |
Sterf | 3 Februarie 1982 Johannesburg, Suid-Afrika |
Genres | Klassiek, opera |
Beroep(e) | Dirigent en musiekadministrateur, professor |
Instrumente | Klavier, viool |
Jare aktief | 1939–1977 |
Hy was onder meer musiekdirekteur van die SAUK, van 1964 tot 1967 voltydse dirigent van die uitsaaikorporasie se simfonieorkes, voorsitter van die FAK se musiekkommissie, musiekadviseur van die Operavereniging van Suid-Afrika (Opsa) en lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het hom in besonder beywer vir die werke van Suid-Afrikaanse komponiste en die opvoering van operas in Afrikaans.[1] As een van die veelsydigste en bekendste dirigente in Suid-Afrika het hy in later jare gereeld met al die vernaamste orkeste in die land saamgewerk.[2] Die eerste uitvoerings van groter werke deur nie minder nie as 18 van die voorste Suid-Afrikaans komponiste is deur hom behartig. Ook het hy die musiekpatronaat van die SAUK uitgebrei deur gereeld nuwe werke by Suid-Afrikaanse skeppende musici te bestel.[3]