Sedert die samesmelting van Middelburg se moedergemeente met Middelburg-Uitsig in 2010 was Graaff-Reinet met sy twee gemeentes en Cradock met sy drie gemeentes die laaste twee dorpe op die Oos-Kaapse platteland met meer as een NG gemeente. Queenstown het vroeër ook drie gemeentes en toe twee gehad. Die ontvolking van die platteland eis ook op Graaff-Reinet sy tol, want in die amper 40 jaar tussen 1973 en 2012 het die gesamentlike getal belydende lidmate hier so te sê gehalveer van 2115 tot 1077. Net tussen 2010 en 2012 was die afname 270, oftewel sowat 20%. Nuwekerk se belydende lidmate het in 2012 op 395 te staan gekom en dié van die moedergemeente op 682.