![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/af/thumb/c/cc/Adriaan_Hofmeyr_nuut.jpg/640px-Adriaan_Hofmeyr_nuut.jpg&w=640&q=50)
Adriaan Hofmeyr
From Wikipedia, the free encyclopedia
Ds. Adriaan (Attie) Jacobus Louw Hofmeyr (Calvinia, 13 April 1854 – Bellville, 1 Mei 1937) was ’n geliefde maar omstrede predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, bekend as een van die Kerk se welsprekendste en boeiendste leraars[1] asook ’n politieke agitator. In sy meer as halfeeu lange dog onderbroke dienstyd as predikant het hy net vier gemeentes bedien, naamlik van 1881 agtereenvolgens Willowmore, Prins Albert en tot 1899 Wynberg, en daarna eers weer van 1928 tot 1933 Kuruman. Vandat hy dus in 1881 in sy eerste gemeente ontvang is totdat hy 52 jaar later sy emeritaat aanvaar het, het hy langer buite die Kerk se diens gestaan as binne.
Adriaan Hofmeyr | |
![]() | |
Ds. A.J.L. Hofmeyr | |
Naam | Adriaan Jacobus Louw Hofmeyr |
---|---|
Geboorte | 13 April 1854 Calvinia, Kaapkolonie |
Sterfte | 1 Mei 1937 Bellville, Kaapland |
Kerkverband | Nederduits Gereformeerd |
Gemeente(s) | Willowmore, Prins Albert, Wynberg, Kuruman |
Jare aktief | 1881–1933 |
Kweekskool | Kweekskool, Stellenbosch |
Dié lang onderbreking was te wyte aan twee beweerde "onfatsoenlike" verhoudings met vroue, waarvan die eerste betreklik gou in die kiem gesmoor is danksy streng optrede deur die Ring van George, maar die tweede, wat volgens oorlewering ernstiger van aard was, daartoe gelei het dat hy die Kerk se diens van 1899 tot 1928 moes verlaat ná ’n bittere twis, waarskynlik juis oor sy onbetaamlike optrede, tussen hom en die kerkraad van die NG gemeente Wynberg.
So het van sy vroeë potensiaal om, net soos sy vader en ander gesiene Hofmeyr-familielede in diens van die evangelie, 'n leidende rol in die NG Kerk te speel, niks tereg gekom nie. Sy broer Jan is in 1887 as predikant geskors nadat hy bedank het, ook weens onsedelike gedrag. Toe ds. Adriaan Hofmeyr eindelik in 1933 aftree as predikant van die NG gemeente Kuruman, was hy die leraar in die NG Kerk met die langste diens, hoewel hy toe bloot 'n betreklik onbekende predikant van 'n verafgeleë gemeente was, maar darem 'n tyd lank as Ringsvoorsitter gedien het. Nietemin het sommige Afrikaners hom vir altyd gebrandmerk as ’n volksverraaier omdat hy tydens die Tweede Vryheidsoorlog as agent van die Britse regering die Boere wou omhaal om die wapen neer te lê.[2]