Dissipel vir wie Jesus baie lief was
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die frase "die dissipel vir wie Jesus baie lief was" (Grieks: ὁ μαθητὴς ὃν ἠγάπα ὁ Ἰησοῦς, ho mathētēs hon ēgapā ho Iēsous) of, in Johannes 20:2, "die ander dissipel vir wie Jesus baie lief was", word ses keer in die Evangelie van Johannes gebruik,[1] maar in geen ander boek van die Nuwe Testament nie. Volgens Johannes 21:24[2] is die Evangelie van Johannes geskoei op die geskrewe getuienis van dié dissipel.
Sedert die einde van die 1ste eeu word die geliefde dissipel algemeen geïdentifiseer as Johannes self.[3] Geleerdes debatteer egter al sedert minstens die 3de eeu, maar veral sedert die Verligting, oor wie die skrywer van die Johannes-boeke was (die Evangelie van Johannes, die Briewe van Johannes en Openbaring). Baie moderne geleerdes verwerp die idee dat die boeke deur Johannes geskryf is,[4][5] maar nie almal nie.[6]
Daar is konsensus onder geleerdes dat die geliefde dissipel 'n regte persoon was,[7] maar daar is geen konsensus oor wie dit was nie.[8]