FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 21ste FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Russies: Чемпионат мира по футболу FIFA 2018, Tsjempionat mira po foetboloe FIFA 2018, [tɕɪmʲpʲɪɐˈnat ˈmʲirə pə fʊdˈboɫʊ ˈfiːfə dvʲɪˈtɨsʲɪtɕɪ vəsʲɪmˈnatsətʲ]; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 14 Junie tot 15 Julie 2018 in Rusland aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Rusland aangebied is en die elfde in Europa; net die stad Jekaterinburg met die Sentrale Stadion is in die Asiatiese deel van dié land (Noord-Asië en Siberië) geleë, waarmee die toernooi vir die eerste keer op twee vastelande gehuisves is: Asië en Europa.[3] Ná die Olimpiese Winterspele 2014 in Sotsji was die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018 die tweede groot sportkompetisie in Rusland. Die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2017 het as ’n voorbereiding vir die gasheerland gedien.
Чемпионат мира по футболу FIFA 2018 (Tsjempionat mira po foetboloe FIFA 2018) | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Rusland |
Datums | 14 Junie – 15 Julie |
Spanne | 32 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 12 (in 11 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Frankryk (2 titels) |
Tweede plek | Kroasië |
Derde plek | België |
Vierde plek | Engeland |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 64 |
Doele | 169 (2.64 per wedstryd) |
Bywoning | 3 031 768 (47 371 per wedstryd) |
Meeste punte | Harry Kane (6 doele)[1] |
Beste speler | Luka Modrić[2] |
← 2014 2022 → |
32 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018 deelgeneem. Die spanne is in agt groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die agtste eindrondte deurgedring het. Frankryk het die trofee gewen nadat hulle Kroasië op 15 Julie in die Loezjnikistadion van Moskou, die Olimpiese stadion van die Olimpiese Somerspele 1980, met 4–2 geklop en sodoende hul tweede wêreldbekertitel ingepalm het. Frankryk sou regstreeks vir die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2021 gekwalifiseer het, maar dié toernooi is later deur FIFA geskrap.[4] Gunstelinge vir die wêreldbekertitel voor die afskop van die toernooi was Brasilië, Duitsland, Frankryk en Spanje.[5] Die verdedigende kampioen Duitsland is reeds in die groepfase uitgeskakel; dieselfde lot wat voorheen Brasilië in 1966, Frankryk in 2002, Italië in 2010 en Spanje in 2014 toegeval het, maar vir Duitsland was dit die eerste keer wat hulle nie na die uitklopfase kon deurdring nie.[6] Dit is die vierde agtereenvolgende Sokker-Wêreldbekertoernooi wat deur 'n Europese nasionale sokkerspan gewen is, ná Italië in 2006, Spanje in 2010 en Duitsland in 2014.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie vir die toernooi gekwalifiseer nie en dus nie daaraan deelgeneem nie. Die nasionale sokkerspanne van Panama en Ysland het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem.