Guernésiais
From Wikipedia, the free encyclopedia
Guernésiais, ook bekend as Dgèrnésiais, Guernsey Frans of Français Normand de Guernsey, is die variant van die Normandiese taal of parler (dialek) wat in Guernsey gepraat word. As een van die Oïltale het dit wortels in Latyn, maar dit is ook op verskillende tye sterk beïnvloed deur beide Oudnoors en Engels.
Guernésiais Dgèrnésiais | ||
---|---|---|
Gepraat in: | Guernsey | |
Gebied: | Kanaaleilande | |
Totale sprekers: | 1 330 | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Romaans Wes-Romaans Galloiberies Galloromaans Gallorhaeties Oïl Normandies Guernésiais | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Guernsey | |
Gereguleer deur: | geen | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | - | |
ISO 639-2: | - | |
ISO 639-3: | - | |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Guernésiais is tot 'n mate onderling verstaanbaar met Jèrriais wat in Jersey gepraat word en Normandies van die vasteland gedeelte van Normandië in Frankryk. Guernésiais is die naaste aan die Normandiese dialek van La Hague in die Cotentinskiereiland. Guernésiais is minder deur Frans beïnvloed as Jèrriais, maar is weer tot 'n groter mate deur Engels beïnvloed.[1] Nuwe woorde is ingevoer vir moderne verskynsels soos le bike, le lorry en le gas-cooker. Die kontak tussen Engels en Guernésiais beïnvloed oënskynlik ook die grammatika van die dialek. Dit kan gesien word in die plasing van die byvoeglike naamwoord voor die selfstandige naamwoord.[2]
Daar is 'n ryk digtradisie in Guernésiais. Guernésiais liedjies is deur die see, kleurvolle idiome, tradisionele volksverhale, so wel as die natuurskoon van die eiland geïnspireer. Die eiland se bekendste digter was Georges Métivier (1790–1881), 'n tydgenoot van Victor Hugo, wat plaaslike digters beïnvloed en geïnspireer het om hulle tradisionele digkuns te druk en publiseer. Métivier het plekname, voël- en dierename, tradisionele gesegdes en oorvertelde fragmente van middeleeuse poësie gemeng om sy Rimes Guernesiaises (1831) te skep. Que l'lingo seit bouan ou mauvais / J'pâlron coum 'nou pâlait autefais (of die “lingo” goed of sleg is, gaan ek praat soos ons destyds gepraat het), het Métivier geskryf.
Guernésiais het nog altyd 'n laer status as standaard Frans en terwyl eersgenoemde baie keer sommer kortweg patois genoem word, word na Standaard Frans as bon français (Letterlik goeie Frans) verwys.[1] Guernsey is vandag grootliks verengels en Guernésiais is tans ernstig bedreig en dit loop gevaar om in die volgende paar dekades uit te sterf.