From Wikipedia, the free encyclopedia
Mercurius is die naaste planeet aan die Son en het geen natuurlike satelliet nie. In die vroeë 1970's was daar 'n hipotese dat 'n onontdekte maan om die planeet wentel, maar eindelik is besef dit was data van die ster 31 Crateris wat verkeerd vertolk is.[1] Die waarneming van 'n maan om Mercurius sal moeilik wees omdat die planeet relatief naby aan die Son is.[2] Merrcurius is byvoorbeeld eers in 1995 in die infrarooi spektrum waargeneem.[2] Nasa se ruimtetuig MESSENGER, van 2011 tot 2015 om Mercurius gewentel het, het nie 'n maan bespeur nie.[3][4] Mercurius se klein Hillsfeer (swaartekragsfeer van invloed) beperk die moontlikheid van die bestaan van 'n natuurlike satelliet.[5]
Vir 'n kort tyd is geglo dat Mercurius wel 'n maan het. Op 27 Maart 1974, twee dae voordat Mariner 10 verby Mercurius gevlieg het, het instrumente 'n groot hoeveelheid ultraviolet straling in die omgewing van Mercurius begin registreer wat, volgens een sterrekundige, "geen reede gehad het om daar te wees nie".[1] Teen die volgende dag het die straling verdwyn, maar dit het drie dae later weer verskyn en gelyk of dit van 'n voorwerp kom wat los van Mercurius was.[1] Sommige sterrekundiges het gespekuleer dat dit 'n ster was, maar ander het gemeen dit moet 'n maan wees, omdat die straling uit twee verskillende rigtings gekom het en vanweë die geloof dat sulke hoë-energie-straling nie ver deur die interstellêre medium kon penetreer nie.[1] Argumente ten gunste van 'n maan is versterk toe bereken is die voorwerp se snelheid is sowat 4 km/s, wat met die verwagte snelheid van 'n maan ooreengestem het.[1]
'n "Maan" is in 1974 waargeneem wat weg van Mercurius beweeg, maar is eindelik geïdentifiseer as 'n agtergrondster, 31 Crateris. Die ster is 'n spektroskopiese dubbelster met 'n wentelperiode van 2,9 dae, en dit kon die bron gewees het van die ultraviolet straling wat in 1974 waargeneem is.[6] Die identifikasie van die maan het gelei tot 'n belangrike ontdekking in sterrekunde: dat ultraviolet straling nie so goed deur die interstellêre medium geabsorbeer word as wat vroeër geglo is nie.
In 'n Aprilgrap in 2012 het Nasa aangekondig die MESSENGER-ruimtetuig het 'n maan ontdek wat om Mecurius wentel. Hulle het dit grappenderwys "Caduceus" genoem, in verwysing na die caduceus, of Boodskapperstaf, die staf wat deur die Romeinse god Mercurius gedra is.[7] Die MESSENGER-sending is in 2011 en 2013 gebruik om na mane om Mercurius te soek, en het bevestig dat die planeet geen mane het nie.[8]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.