Kupido (sanger)
Suid-Afrikaanse sanger / From Wikipedia, the free encyclopedia
Kupido, die verhoognaam van Johannes Matheus (Johan) Wessels (Lusaka, Noord-Rhodesië, 28 Oktober 1953 – 22 Februarie 2016), was 'n Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer van Zambiese herkoms.
Kupido | |
---|---|
Geboortenaam | Johan Wessels |
Gebore | (1953-10-28)28 Oktober 1953 Lusaka, Noord-Rhodesië (nou Zambië) |
Oorsprong | Noord-Rhodesië |
Sterf | 22 Februarie 2016 (op 62) Middelburg, Suid-Afrika |
Genres | Afrikaans, Country |
Beroep(e) | Sanger, liedjieskrywer |
Jare aktief | 1983 – omstreeks 2000 |
Assosiasies | Quattro |
Wessels is in 'n Engelssprekende gesin gebore in die destydse kolonie Noord-Rhodesië, wat op 24 Oktober 1964, vier dae voor sy 11de verjaardag, die onafhanklike republiek Zambië geword het. Hy het ook daar skoolgegaan en toe al in konserte opgetree en in musiek belanggestel. As die oudste in 'n musikale gesin van 12 kinders het hy op hul beesplaas altyd die voortou geneem wanneer die gesin hulself moes vermaak. Van kleins af was hy besig om kitaar te speel en liedjies te skryf. In Lusaka het hy saam met 'n orkes, Big Gold Six, begin sing.
Die gesin Wessels het in 1979 na Suid-Afrika verhuis en hulle op 'n plasie naby Ogies in die huidige provinsie Mpumalanga gevestig. Hier het Johan Wessels begin boer, maar later was hy ook vragmotorbestuurder, haarkapper en kok. In dié tyd het hy 'n opdraande stryd gevoer om raakgesien te word, tot hy van sy opnames op kasset na Cora Marie gestuur het. Sy en haar man, Corrie Myburgh, het Wessels 'n platekontrak aangebied en besluit die naam Kupido sal beter in die musiekbedryf werk as sy geboortenaam.
Die naam Kupido is gekies omdat hy meestal liefdesliedjies geskryf en gesing het. Kupido het in 1981 saam met die sangeres Cora Marie begin optree. Sy grootste treffer, Was Ek Maar 'n Digter, was so gewild dat die plaat goud was voor dit op die rakke beskikbaar was. In 1982 was die liedjie die enigste Afrikaanse lied op die destydse Springbokradio se top-20-treffersparade.
In 1983 is Kupido en Cora Marie se duet plaat Country in Harmonie vrygestel. Plaat na plaat het gevolg, met meeste van die oorspronklike Afrikaanse liedjies uit Kupido se eie pen. Hulle het vir 11 jaar saamgewerk tot Cora se afsterwe in 1994.
Kupido se talent as liedjieskrywer is wyd bekend en hy het groot treffers vir sangers soos Cora Marie, Johan Stemmet en Laurika Rauch geskryf.
Kupido het in 1997 die groep Quattro gestig saam met sy broer Alan Ladd en sy susters Cleo en Angela.[1]
Kupido het 'n gospelalbum U Regte Weë in 2009 uitgereik.
In 2012 deel hy sy herinneringe oor wyle Cora Marie in die biografie "Gee Haar 'n Roos-Die Lewensverhaal van Cora Marie" met die skrywer Shaun Mynhardt. Hy is vroeg op 22 Februarie 2016 in sy slaap oorlede aan hartversaking in Middelburg tydens 'n besoek aan sy suster. Hy was 62 jaar oud.[2] Sy begrafnis het plaasgevind op die plaas Karibuni, distrik Zeerust, Noordwes, op Vrydag, 26 Februarie 2016.