From Wikipedia, the free encyclopedia
Die maanseë of maria (enkelvoud: mare)[1] is uitgestrekte, donker, basaltiese vlaktes op die Aarde se Maan, gevorm deur antieke vulkaniese uitbarstings. Dié vlaktes is maria, Latyn vir "seë", genoem deur vroeë sterrekundiges wat dit aangesien het vir werklike seë. Weens hul ysterryke samestelling is hierdie maanvlaktes minder weerkaatsend as die "hooglande", sodat hulle vir die blote oog betreklik donker voorkom. Die maria bedek sowat 16 persent van die maanoppervlakte, en dan merendeels aan die nabykant wat vanaf die aarde af sigbaar is. Die enkele maria aan die vêrkant is veel kleiner, waar dit hoofsaaklik tot die besonder groot kraters beperk is, waar slegs beperkte oorvloei voorgekom het. Die gebruiklike benamings van maankenmerke sluit ook een oceanus (oseaan) in, benewens kenmerke wat bekend staan as lacus (meer), palus (kuil) en sinus (baai). Die laasgenoemde drie soorte is kleiner as die maria, maar is van dieselde aard en kenmerke.
Die ouderdomme van die mare-basalte is deur direkte radiometriese datering en die tegniek van kratertelling vasgestel. Die radiometries-bepaalde ouderdomme wissel tussen sowat 3.16 en 4.2 Ga,[2] terwyl kratertellings die jongste ouderdomme aandui as 1.2 Ga (1 Ga = 1 miljard jaar ouderdom).[3] Die meerderheid mare-basalte kan egter met uitvloeie van tussen sowat 3 en 3.5 Ga gelede vereenselwig word. Die enkele basaltiese uitbarstings van die maan se verkant is oud, terwyl die jongste vloeie, dié van die Oceanus Procellarum, aan die maan se nabykant voorkom. Terwyl etlike van die basalte òf van binne, òf bo-oor impakbekkens gevloei het, word die grootste aaneenlopende vulkaniese samestelling, naamlik die Oceanus Procellarum, nie met enige bekende impakbekken vereenselwig nie.
Daar bestaan etlike algemene wanpersepsies omtrent die gebiedsverspreiding van mare-basalte.
Die rede waarom die mare-basalte hoofsaaklik tot die maan se nabye halfronde beperk is, word steeds deur die wetenskaplike gemeenskap ondersoek. Data wat deur die Lunar Prospector-missie verkry is, blyk aan te dui dat 'n groot gedeelte van die maan se voorraad van hitteproduserende elemente (in die vorm van KREEP) geleë is binne die streke van Oceanus Procellarum en die Imbrium-bekken, 'n unieke geochemiese streek wat tans bekendstaan as die Procellarum KREEP-terrein.[5][6][7] Terwyl die bevordering van hitteproduksie binne die Procellarum KREEP-terrein sekerlik verwant is aan die langlewende en intense vulkanisme aldaar, bestaan daar verskille oor die meganisme waardeur KREEP binne hierdie streek gekonsentreer sou word.[8]
Mare-basalte word tipies na gelang van die chemie van hul hoofelemente geressorteer. Gevolglik word drie reekse onderskei, naamlik die hoë-Ti-basalte, lae-Ti-basalte, en besonder lae-Ti (VLT)-basalte. Weens die Apollo-rotsspesimens is die mare-basalte eens as komende van drie kenmerkende groepe beskou, maar globale afstand-aftastingsdata van die Clementine-missie het egter getoon dat daar 'n kontinuum van titaan-konsentrasies bestaan tussen hierdie uitskieter-voorbeelde, en dat die hoë-titaan-konsentrasies die skaarste vorm is. Voorkoms van TiO2 kan tot 15 wt.% wees vir mare-basalte, terwyl meeste aardbasalte oor heelwat minder as 4 wt.% beskik. Ander geochemiese onderafdelings berus op die voorkoms en konsentrasie van aluminium en kalium.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.