Apollo-program
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Die Apollo-program was 'n reeks sendings wat tussen 1961 en 1975 deur die Amerikaanse Ruimte-administrasie (NASA) met die gebruik van die Apollo-ruimtetuig en die Saturn-V-vuurpyl onderneem is. Die bevelmodule en tweede fase van die Saturn-V is deur North American Aviation ontwikkel en het die landing van 'n mens op die Maan, en ook sy veilige terugkeer na die Aarde, ten doel gehad. Hierdie doel is uiteindelik met die Apollo 11 missie op 20 Julie 1969 bereik. Die woorde van een van die ruimtevaarders toe Apollo 13 later nie dié sukses kon herhaal nie, "Houston, we have a problem", word vandag soms op humoristiese wyse gebruik wanneer iets skeefloop.[1]



Remove ads
Agtergrond
Die Apollo-program kan beskou word as 'n voortsetting van die Mercury- en die Gemini-ruimteprogramme. Die doel was om bemande reise na die maan te onderneem sodat navorsing op die hemelliggaam gedoen kon word. Die eerste maanlanding is op 21 Junie 1969 deur Neil Armstrong en Buzz Aldrin uitgevoer. Die derde ruimtereisiger, Michael Collins, het in die Apollo-beheer-en-diensmodule in 'n wentelbaan om die maan gewentel.
Die maan is aanvanklik te voet verken, maar later kon groot afstande met 'n spesiaal ontwerpte maankar afgelê word. Gedurende die Apollo-program is ongeveer 400 kilogram maanrots na die aarde gebring, waar daar stelselmatig met die ontleding daarvan begin is. Dit het nie alleen die mens se kennis van die maan as hemelliggaam baie verbreed nie, maar het ook 'n beter begrip gegee van die ontstaan en samestelling van die sonnestelsel.
Remove ads
Geskiedenis
Die geskiedenis van die Apollo-program het reeds in 1957 begin. In daardie jaar het 'n span ruimtevaartdeskundiges onder leiding van Wernher von Braun met die ontwerp van 'n “super-vuurpyl" vir die Amerikaanse leer begin. Die vuurpyl, Juno, was bedoel om 'n stukrag van 700 ton te ontwikkel en 'n massa van 2,5 tot 5 ton in 'n wentelbaan om die aarde te plaas. Aangevuur deur die sukses wat die Russe in die ruimte behaal het, en die feit dat hulle reeds die agterkant van die maan gefotografeer het, is die program in aller haas aangepak.
Die aanvanklike projek is opgevolg met die ontwerp van Juno-V later tot Saturn-V herdoop wat 'n stukrag van 3 400 ton sou kon lewer en selfs meer as een ruimtevaarder na die maan sou kon vervoer. Aan Amerikaanse kant is daar toe egter nog nie met die werk aan die bemande maanvlugte begin nie.
NASA (National Aeronautics and Space Administration) het hom intussen besig gehou met die vraag oor wat na die Mercury-projek moet gebeur die proefstadium van die eenman-ruimtetuie was feitlik afgehandel. In 1960 is 'n program van bemande maanvlugte voorgestel, wat die naam Apollo gekry het.
John F. Kennedy het in dieselfde jaar president van die VSA geword en hy was onmiddellik 'n vurige ondersteuner van die program. Op 25 Mei 1961 het hy die plan aan die Amerikaanse Kongres voorgelê en dit is goedgekeur. Voor die einde van die sestigerjare sou die VSA 'n man na die maan stuur.
Gedagtig aan die Russe se voorsprong, is daar haastig met voorbereidings begin. Verskillende moontlikhede vir die vlug na die maan is oorweeg, maar uiteindelik is besluit dat twee verskillende ruimtetuie gebruik moet word. Twee ruimtevaarders sou in 'n landingstuig op die maan land terwyl 'n derde in die Apollo-beheer en diensmodule in 'n wentelbaan om die maan sou wentel.
Die vuurpyl wat vir die maanreis ontwerp is, was die driefase-Saturn-V, wat 'n totale lengte van 111 m gehad het. Vir die eerste fase is vyf motore gebruik, met keroseen en vloeibare suurstof as brandstof. Hierdeur kon die vuurpyl ʼn snelheid van bykans 10 000 km/h haal en die ruimtetuig tot 65 km die ruimte indra. Na 160 sekondes is hierdie fase afgehandel en is die vyf motore vir die tweede fase ontsteek. As brandstof is vloeibare waterstof en suurstof gebruik en is die snelheid nou tot 12 500 km/h verhoog. Vir die derde fase is slegs een motor gebruik, maar dit is twee keer in werking gestel; die eerste keer om die tuig in 'n wentelbaan om die aarde te plaas en daarna om in 'n wentelbaan om die maan te kom. Gedurende elke fase is die aanjaervuurpyle trapsgewys ontkoppel. Die Apollo-ruimtetuig is, na die ontkoppeling van die derde trap, op sy alleenreis voort gestuur.
Remove ads
sendings
- A – Onbemande Saturn-V en Apollo bevel- en diensmodule (CSM) ontwikkeling (Apollo 4, Apollo 6)
- B – Onbemande maanmodule (LM) ontwikkeling (Apollo 5)
- C – Eerste bemande Apollo-evaluasie in 'n lae aardwentelbaan (Apollo 7)
- D – Bemande CSM en LM ontwikkeling in 'n lae aardwentelbaan (aanvanklik beplan vir Apollo 8; gevlieg as Apollo 9)
- E – Bemande CSM en LM oefenoperasies vir maanreis in 'n medium aardwentelbaan op 'n apside van (7 400 km), maar nie onderneem nie
- F – Bemande CSM en LM operasies in maanwentelbaan, die "kleedrepetisie" vir 'n maanlanding (Apollo 10)
- G – Eerste bemande Apollo-vlug wat 'n maanlanding uitvoer (Apollo 11)
Die eerste bemande maanmodule (LM-3) was nie gereed in Desember 1968 vir die lanseerdatum van Apollo 8 nie. Dit is as 'n maanwentelbaanmissie gevlieg met slegs die CSM, waarna die E-missie toe gekanselleer is.
Datums hier gelys is die datums van die lansering.
Onbemande Saturn I
- SA-1 – 27 Oktober 1961. Toets van die S-1-vuurpyl
- SA-2 – 25 April 1962. Toets van die S-1-vuurpyl
- SA-3 – 16 November 1962. Herhaling van die SA-2 missie.
- SA-4 – 28 Maart 1963.
- SA-5 – 29 Januarie 1964.
- A-101 – 28 Mei 1964.
- A-102 – 18 September 1964.
- A-103 – 16 Februarie 1965. Vervoer van die mikrometeoriet-satelliet Pegasus A
- A-104 – 25 Mei 1965. Vervoer van die mikrometeoriet-satelliet Pegasus B
- A-105 – 30 Julie 1965. Vervoer van die mikrometeoriet-satelliet Pegasus C
Onbemande Little Joe II
- QTV – 28 Augustus 1963. Toets van Little Joe II.
- A-001 – 13 Mei 1964.
- A-002 – 8 Desember 1964.
- A-003 – 19 Mei 1965.
- A-004 – 20 Januarie 1966.
Onbemande Apollo-Saturn IB en Saturn-V
- AS-201 – 26 Februarie 1966.
- AS-203 – 5 Julie 1966.
- AS-202 – 25 Augustus 1966.
- Apollo 4 – 9 November 1967.
- Apollo 5 – 22 Januarie 1968.
- Apollo 6 – 4 April 1968.
Bemande sendings
Remove ads
Bronnelys
- Wêreldspektrum, Volume 2, bl.39, ISBN 0908409419
Verwysings
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads