Moraingy
From Wikipedia, the free encyclopedia
Moraingy (Malgassies) of Moringue (Frans) is ’n tradisionele kaalvuistipe vegkuns wat tydens die Maroseranana-dinastie (1675-1896) van die Sakalava-koninkryk van die weskus van Madagaskar ontstaan het. Dit het sedertdien oor die hele eiland gewild geraak, veral in die kusstreke, maar ook in naburige eilande van die Indiese Oseaan soos Réunion, Mayotte, Comore, Seychelle en Mauritius.
Die sportsoort was eens beperk tot jong mans sodat ouer lede van die gemeenskap hul fisieke krag en fiksheid kon beoordeel, terwyl dit aan die mans die geleentheid gegee het om prestige te verkry en hul vermoëns te toets. Vandag is die gemiddelde ouderdom van die deelnemers steeds tussen 10 en 35, maar jong mense van albei geslagte mag deelneem. Deelnemers word kidabolahy ("jong mans") genoem, of kidabo mpanao moraingy ("jong mense wat moraingy beoefen"). Hulle word algemeen gerespekteer en selfs gevrees.
Moraingy-gevegte moet volgens tradisie deur musiek vergesel word om die deelnemers en toeskouers in ’n soort beswyming te plaas, en dit dra by tot die spirituele en sosiale ondervinding. As deel van dié ondervinding doen deelnemers ook danse tydens en tussen gevegte – dit tart die teenstander se ondersteuners uit.[1]