Ontploffing in Beiroet, Libanon From Wikipedia, the free encyclopedia
Op 4 Augustus 2020 het ‘n brand en verskeie ontploffings gevolg deur ‘n reuse ontploffing in die Beiroethawe in Libanon plaasgevind.[1][2][3] Ten minste 207 mense is dood, en meer as 6 500 beseer. Marwan Abboud, goewerneur van Beiroet, het geraam dat tot 300 000 mense haweloos gelaat is deur die ontploffings.
Die ontploffing hou verband met ongeveer 2 750 ton ammoniumnitraat wat deur die regering gekonfiskeer is van die verlate skip MV Rhosus en ses jaar lank sonder behoorlike veiligheidsmaatreëls in die hawe geberg is. Die ontploffing is as 'n seismologiese gebeurtenis van die grootte 3.3 op die Richterskaal aangeteken deur die Verenigde State se geologiese opname-instelling (United States Geological Survey).
Die Libanese regering het 'n noodtoestand van twee weke afgekondig in reaksie op die ramp. In die nasleep het protesoptogte teen die regering dwarsoor Libanon uitgebreek weens hul versuim om die ontploffings te voorkom, en by 'n groter reeks protesoptogte wat sedert 2019 in die land plaasgevind het, aangesluit. [4][5][6] Op 10 Augustus 2020 het premier Hassan Diab en die Libanese kabinet bedank weens die toenemende politieke druk wat deur die gebeurtenis vererger is.[7]
Kort na 18:00 plaaslike tyd is tien brandbestryders uitgeroep om 'n pakhuisbrand in die Beiroet-hawe te blus.[8] Die eerste, 'n kleiner ontploffing, het 'n rookwolk bo die brand opgestuur en flitsende ligte veroorsaak weens die vlamvat van 'n hoop vuurwerke wat in die pakhuis gestoor is.[9] Die tweede massiewe ontploffing het omstreeks 18:08 plaaslike tyd plaasgevind, wat Beiroet geruk en 'n sampioenwolk van stof die lug in gestuur het.[10] Getuies het gesê dat huise van so ver as 10 kilometer van die ontploffing beskadig is.[11] Die hoofkwartier van Daily Star, 'n Libanese koerant, is verwoes deurdat dele van die dak ingeval het, vensters gebreek is en meubels beskadig is.[12] Die ontploffings is so ver as Siprus, 240 kilometer van Beiroet, gehoor.[13][14] Spesialiste van die Universiteit van Sheffield skat dat die ontploffing een van die grootste nie-kernontploffings in die geskiedenis was.[15]
Die oorsaak van die ontploffings is nie onmiddellik bepaal nie. Libanese media het berig dat die ontploffings by 'n vuurwerkstoorplek plaasgevind het, terwyl ander berig het dat dit by 'n oliebergingsfasiliteit of 'n chemiese opbergingsfasiliteit was.[1][16] Daar was pakhuise in die hawe wat plofstof en chemikalieë geberg het.[17] Abbas Ibrahim, die direkteur-generaal van die La Sûreté Générale (die Libanese intelligensiediens), het gesê die ontploffing is veroorsaak deur ammoniumnitraat wat jare gelede gekonfiskeer en geberg is.[18] Die ammoniumnitraat is afkomstig van die Moldawiese vragskip MV Rhosus, wat in Oktober 2013 as gevolg van enjinprobleme in Beiroet aangedoen het.[19] Die skip het 2 750 ton ammoniumnitraat van Batumi, Georgië, na Beira, Mosambiek vervoer. Toe dit onseewaardig bevind word, het die eienaars en die agente van die skip afstand gedoen, die bemanning is teruggestuur en die vrag daarvan is aanland gebring vir berging.[20] Die ammoniumnitraat is daarna vir die volgende ses jaar sonder voldoende veiligheidsmaatreëls in pakhuise gestoor tot en met die ontploffing in Augustus. 'n Veiligheidsbron het gesê dat die ontploffing veroorsaak is tydens sweiswerk om 'n gat in 'n pakhuis se deur te herstel.[21]
Voorheen het verskeie doeanebeamptes briewe aan regters gestuur met die versoek om 'n oplossing te vind vir die kwessie van die gekonfiskeerde vrag met die voorstel dat die ammoniumnitraat uitgevoer word, aan die Libanese leër gegee word, of aan die private Libanese plofstofmaatskappye verkoop word.[22] Briewe is op 27 Junie en 5 Desember 2014, 6 Mei 2015, 20 Mei en 13 Oktober 2016 en 27 Oktober 2017 gestuur. Een van die briewe wat in 2016 gestuur is, het daarop gewys dat regters nie op vorige versoeke geantwoord het nie, en het 'gepleit':[23]
"In die lig van die ernstige gevaar daaraan verbonde om hierdie goedere in ongeskikte klimaatstoestande in die pakhuis te hou, bevestig ons weer ons versoek aan die mariene-agentskap om hierdie goedere onmiddellik weer uit te voer om die veiligheid van die hawe en diegene wat daarin werk, te bewaar, of om 'n ooreenstemming te oorweeg om hierdie goedere te verkoop."
Weens die ontploffings is minstens 207 mense dood[24] en meer as 6 500 beseer.[25]
Nazar Najarian, die sekretaris-generaal van die Kataeb Party, is dood aan ernstige kopbeserings tydens die ontploffing,[26] en Kamal Hayek, voorsitter van die staatsbeheerde elektrisiteitsonderneming, was in 'n kritieke toestand.
Die destydse Duitse minister van buitelandse sake, Heiko Maas, het gesê dat 'n werknemer van die Duitse ambassade by haar huis dood is weens die ontploffing.[27]
Die Libanese Rooi Kruis het gesê dat alle beskikbare ambulanse uit Noord-Libanon, die Bekaavallei en Suid-Libanon na Beiroet gestuur is om pasiënte te help. Helikopters is gebruik om 'n groot brand na die ontploffings te blus. Tientalle beseerdes wat na nabygeleë hospitale afgevoer is, kon weens die skade aan die hospitale nie ontvang word nie.
Hassan Diab, die premier van Libanon, het aangekondig dat die dag ná die ontploffings 'n nasionale dag van rou sou wees.[28] Die goewerneur van Beiroet, Marwan Abboud, het op televisie in trane uitgebars en dit " 'n nasionale ramp" genoem.[3]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.