Planetêre newel
'n soort emissienewel / From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Planetêre newel, meer korrek bekend as ’n supernova-oorblyfsel,[1] is ’n emissienewel wat bestaan uit ’n uitspreiende, gloeiende bol geïoniseerde gas wat weggedryf word tydens die reusesterfase van sekere soorte sterre laat in hul bestaan.[2]
Die naam vir dié soort newels is die verkeerde term wat in die 1780's by die sterrekundige William Herschel ontstaan het. Deur sy teleskoop het dit vir hom in ’n mate gelyk soos Uranus, die planeet wat hy kort tevore ontdek het. Herschel se naam vir die voorwerpe is deur ander sterrekundiges gebruik en is nog nooit verander nie, hoewel planetêre newels geen verband hou met die planete van die Sonnestelsel nie.[3] Die verskynsels bestaan vir ’n ralatief kort tyd – ’n paar tienduisende jare – in vergelyking met ’n ster, wat miljarde jare oud kan word.
Daar word geglo die meeste planetêre newels word op die volgende manier gevorm: Aan die einde van ’n ster se leeftyd, wanneer hy ’n rooireus is, word sy buitenste lae deur pulsering en sterk sterwinde weggedryf. Sonder hierdie ondeurskynende lae straal die warm, helder kern ultravioletstrale uit wat die wegdrywende lae van die ster ioniseer[2] en laat skitter as ’n plenatêre newel.
Dié newels speel ’n baie belangrike rol in die chemiese evolusie van die sterrestelsel deurdat dit materiaal terugplaas in die interstellêre medium wat tydens nukleosintese met swaarder elemente en ander produkte verryk is (soos koolstof, stikstof, suurstof en kalsium). In ander sterrestelsels kan planetêre newels die enigste voorwerpe wees wat ontleed kan word om nuttige inligting te kry oor die chemiese samestelling daarvan.
In onlangse jare het die Hubble-ruimteteleskoop foto's geneem wat die kompleksiteit en verskeidenheid van planetêre newels wys. Sowat ’n vyfde van hulle is rofweg simmetries, maar die meeste nie. Dit is nie bekend hoekom hulle sulke uiteenlopende vorms het nie, maar faktore soos sterwinde en magnetiese velde kan ’n rol speel.