Poëtiese Edda
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Poëtiese Edda is die moderne naam vir 'n ongetitelde versameling anonieme Oudnoorse verhalende gedigte, wat verskil van die Prosaïese Edda, wat deur Snorri Sturluson geskryf is. Verskeie weergawes bestaan, wat almal afskrifte is van die Yslandse Middeleeuse manuskrip Codex Regius, wat 31 gedigte bevat.[1]
Die Codex Regius is waarskynlik die belangrikste bestaande bron van die Noorse mitologie en Germaanse heldelegendes. Van die 19de eeu af het dit 'n groot invloed gehad op latere Skandinawiese letterkunde – nie net deur sy stories nie, maar ook deur die denkbeeldige krag en dramatiese eienskappe van baie van die gedigte. Dit het baie latere innovasies in poëtiese meter geïnspireer, veral in die Noorse tale, en baie wisselende voorbeelde gebied van gedronge, stresgebaseerde metriese skemas wat geen finale ryming het nie, maar eerder allitererende metodes gebruik. Verskeie digters, soos J.R.R. Tolkien, het al erken hulle is baie verskuldig aan die Codex Regius.
Die Codex Regius is in die 13de eeu geskryf, maar niemand het geweet waar dit is nie, tot in 1643 toe dit in die besit gekom het van Brynjólfur Sveinsson, destyds die biskop van Skálholt. In dié tyd was weergawes van die Prosaïese Edda in Ysland bekend, maar geleerdes het vermoed daar was eens 'n ander, ouer Edda met Noorse heidense gedigte wat Snorri in sy Prosaïese Edda aangehaal het. Toe die Codex Regius ontdek is, is die vermoedens bevestig.[2]
Brynjólfur skryf die manuskrip toe aan Saemundr die Geleerde, 'n meer as lewensgroot 12de-eeuse Yslandse priester. Moderne geleerdes verwerp die idee, maar die naam Saemundar Edda word soms steeds verbind met beide die Codex Regius en die weergawes van die Poëtiese Edda wat dit as bron gebruik.
Biskop Brynjólfur het die Codex Regius as 'n geskenk aan die Deense koning gestuur en dit is eeue lank in die Koninklike Biblioteek in Kopenhagen bewaar, maar in 1971 is dit aan Ysland terugbesorg.[3]