Prosaïese Edda
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Prosaïese Edda of Prosa-Edda, ook bekend as die Jonger Edda, Snorri se Edda (Yslands: Snorra Edda) of histories bloot Edda, is 'n Oudnoorse handboek wat in die vroeë 13de eeu in Ysland geskryf is. Dit is vermoedelik geskryf, of minstens saamgestel, deur die Yslandse geleerde en historikus Snorri Sturluson. Dit word beskou as die grootste en mees gedetailleerde bron vir moderne kennis oor die Noorse mitologie, die mites van die Noord-Germaanse volke, en gebruik 'n verskeidenheid bronne, insluitende weergawes van gedigte wat bewaar gebly het in 'n werk bekend as die Poëtiese Edda.
Die Prosaïese Edda bestaan uit vier afdelings: Die voorwoord, 'n historiese weergawe van die Noorse gode; Gylfaginning, in 'n vraag-en-antwoord-formaat; Skáldskaparmál, wat dieselfde formaat volg en dan 'n lys kenninge en terme aangee; en Háttatal, wat die samestelling van tradisionele skaldepoësie bespreek.
Sewe manuskripte van die Prosa-Edda uit omstreeks 1300 tot 1600 verskil merkbaar van mekaar en verskaf aan navorsers onafhanklike tekswaarde vir ontleding. Dit lyk of die Prosa-Edda soos 'n destydse handboek gewerk en ten doel gehad het om Yslandse digters en lesers te help om die subtiliteit van die alliterende versvorm te verstaan, asook die baie kenninge wat in skaldepoësie gebruik word.
Dit was aanvanklik net as Edda bekend, maar is later die Prosa-Edda genoem om dit te onderskei van die Poëtiese Edda.[1] Vroeë kenners van die Prosa-Edda het vermoed daar bestaan 'n vroeëre versameling gedigte wat as bron daarvoor gedien het, en die teorie is bevestig met die ontdekking van die Poëtiese Edda.[1]