Rigveda
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rigveda of Rig Veda (Sanskrit: ऋग्वेद, van ऋच् ṛc, "lof", en वेद veda, "kennis") is ’n antieke Indiese versameling Sanskrit-gesange. Dit is een van die vier kanonieke heilige geskrifte (śruti) van Hindoeïsme wat as die Vedas bekend is.[1][2]
Rigveda | ||
Die vier Vedas. | ||
Godsdiens | Hindoeïsme | |
Taal | Sanskrit | |
Tydperk | c. 1500-1000 v.C. | |
Inhoud | ||
Hoofstukke | 10 mandalas | |
Verse | 10 552 mantras |
Die Rigveda is die oudste bekende Vediese Sanskrit-geskrif[3] en een van die oudste bestaande geskrifte in enige Indo-Europese taal.[4] Die inhoud van die Rigveda is sedert die 2de millennium v.C. mondeling oorgedra.[5][6][7] Filologiese en histories linguistiese bewyse dui daarop dat die grootste deel in die noordwestelike streek van die Indiese subkontinent saamgestel is, heel moontlik tussen omstreeks 1500 en 1000 v.C.,[8][9] hoewel omstreeks 1700 tot 1000 v.C. ook al aangedui is.[10]
Die geskrifte bestaan uit verskillende dele, die Samhita, Brahmanas, Aranyakas en Upanishads. Die Rigveda Samhita is die kernteks; dit is ’n versameling van 10 boeke (mandalas) met 1 028 gesange (suktas) in sowat 10 600 verse (ṛc). In die agt boeke wat eerste saamgestel is – Boek 2 tot 9 – bespreek die gesange hoofsaaklik kosmologie en prys gode.[11][12] Die onlangser boeke – Boek 1 en 10 – behandel deels ook filosofiese en spekulatiewe vrae,[12] deugde soos dana (welsyn) in die gemeenskap,[13] vrae oor die oorsprong van die heelal en die aard van die goddelike, en ander metafisiese kwessies.[14]
Sommge van die verse word steeds tydens Hindoevierings van deurgangsrites (soos troues) en gebede opgesê, wat dit waarskynlik die wêreld se oudste godsdiensgeskrif maak wat aaneen gebruik is.[15][16]