Rugbywêreldbeker 2007
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 2007 (Frans: Coupe du monde de rugby à XV 2007; Engels: 2007 Rugby World Cup; Skots-Gaelies: Cupa Rugbaidh an t-Saoghail 2007; Wallies: Cwpan Rygbi'r Byd 1999) is van 7 September tot 20 Oktober 2007 in Frankryk (nominale gasheer), Wallis en Skotland beslis. Dit was die sesde rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) aangebied word en die derde in die Noordelike Halfrond. Frankryk se bod om die toernooi aan te bied is in 2003 bo Engeland s’n verkies.
Rugbywêreldbeker 2007 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Frankryk (nominaal) Skotland Wallis |
Datums | 7 September – 20 Oktober |
Aantal nasies | 20 (92 kwalifiseer) |
Finale posisies | |
Kampioen | Suid-Afrika |
Naaswenner | Engeland |
Derde plek | Argentinië |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 48 |
Bywoning | 2 263 223 (gem. 47 150 per wedstryd) |
Drieë | 296 (gemiddeld 6.17 per wedstryd) |
Meeste punte | Percy Montgomery (105)[1] |
Meeste drieë | Bryan Habana (8)[2] |
← 2003 |
2011 → |
Die toernooi se formaat van 2003 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2007 deelgeneem: die agt regstreekse kwalifiseerders van die 2003-toernooi (Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die twaalf beste spanne van die kwalifisering (Argentinië, Fidji, Georgië, Italië, Japan, Kanada, Namibië, Portugal, Roemenië, Samoa, Tonga en die Verenigde State). Tydens die Rugbywêreldbeker 2007 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland gekwalifiseer het. Van die 48 wedstryde is 42 in Franse stede aangebied, vier in die Walliese hoofstad Cardiff en twee in die Skotse hoofstad Edinburg. Frankryk het voorheen tydens die Rugbywêreldbeker 1991 en Rugbywêreldbeker 1999 as medegasheer opgetree; albei toernooie is saam met die ander destydse Vyfnasies Engeland, Ierland, Skotland en Wallis aangebied.
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2007 is Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland en Suid-Afrika as gunstelinge op die titel beskou.[3][4] Die Rugbywêreldbeker 2007 het begin met die openingswedstryd tussen die gasheer Frankryk en Argentinië by die Stade de France in Saint-Denis buite Parys. Die Argentyne het verras deur die gasheer te klop, ’n prestasie wat hulle later sou herhaal toe hulle die bronsmedalje gewen het deur Frankryk vir ’n tweede keer te klop. Op 20 Oktober 2007 is die eindstryd ook by die Stade de France gespeel. Suid-Afrika het die verdedigende kampioen Engeland met 15–6 verslaan en sodoende sy tweede rugbywêreldbekertitel ná 1995 ingepalm, ná Australië die tweede span wat daarin kon slaag. Die telling, waarin geen drieë gedruk is nie, is behaal met vier strafskoppe deur Percy Montgomery en een deur François Steyn, teenoor die twee van Engeland se Jonny Wilkinson. Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel. Portugal het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem.