Rugbywêreldbeker 1991
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 1991 (Engels: 1991 Rugby World Cup; Frans: Coupe du monde de rugby à XV 1991; Iers-Gaelies: Corn Rugbaí an Domhain 1991; Skots-Gaelies: Cupa Rugbaidh an t-Saoghail 1991; Wallies: Cwpan Rygbi'r Byd 1991) is van 3 Oktober tot 2 November 1991 in Engeland (nominale gasheer), Frankryk, Ierland, Skotland en Wallis, die destydse Vyfnasies, beslis. Dit was die tweede rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangebied word en die eerste in die Noordelike Halfrond. Agt jaar later het dieselfde vyf lande ook die Rugbywêreldbeker 1999 saam gehuisves.
Rugbywêreldbeker 1991 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Engeland (nominaal) Frankryk Ierland Skotland Wallis |
Datums | 3 Oktober – 2 November |
Aantal nasies | 16 (33 kwalifiseer) |
Finale posisies | |
Kampioen | Australië |
Naaswenner | Engeland |
Derde plek | Nieu-Seeland |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 32 |
Bywoning | 1 007 760 (gem. 31 493 per wedstryd) |
Drieë | 148 (gemiddeld 4.63 per wedstryd) |
Meeste punte | Ralph Keyes (68)[1] |
Meeste drieë | Jean-Baptiste Lafond David Campese (6 drieë elk)[2] |
← 1987 |
1995 → |
Die toernooi se formaat van 1987 het onveranderd gebly en 16 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 1991 deelgeneem: die agt regstreekse kwalifiseerders van die 1987-toernooi (Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Nieu-Seeland, Skotland en Wallis), saam met die agt beste spanne van die kwalifisering (Argentinië, Italië, Japan, Kanada, Roemenië, Wes-Samoa, die Verenigde State en Zimbabwe). Tydens die Rugbywêreldbeker 1991 is 32 wedstryde gespeel, waaronder 24 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Die spanne wat tot die kwarteindrondte gevorder het, het regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika gekwalifiseer.
Australië het die eindstryd op Twickenham in Londen teen Engeland met 12–6 gewen en sodoende sy eerste rugbywêreldbekertitel ingepalm.[3] Die verdedigende kampioen Nieu-Seeland het in die derde en Skotland in die vierde plek geëindig. Suid-Afrika kon nie aan die rugbywêreldbeker deelneem nie as gevolg van ’n sportboikot teen dié land weens sy voortgesette apartheidsbeleid. Die Wes-Samoaanse span het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem, terwyl al die ander spanne vir ’n tweede keer verskyn het. Die Namibiese nasionale rugbyspan is in Maart 1990 gestig, te laat om hoegenaamd aan die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering deel te neem. Vir Zimbabwe sou dit die laaste deelname aan ’n rugbywêreldbekertoernooi wees, omdat hulle sedertdien nie meer vir ’n toernooi kon kwalifiseer nie.